Local newsNews

Droom vir ‘Huis van Hoop’ bewaarheid

‘n Droom van die SAVF om ‘n pleeghuis te vestig waar kinders in nood gehuisves kan word, het dié week ‘n realiteit geword word toe die SAVF die sleutels van die ‘Huis van Hoop’ in King Edwardrylaan in ontvangs geneem het. Nou word daar gewoeker om die huis te meubileer en volledig toe te rus voordat die eerste kinders hier ‘n tuiste kan vind wanneer hul omstandighede tuis moeilik raak.

Akkommodasie vir kinders in nood te vind, het die saadjie geplant om die Huis van Hoop te begin.

“Ons het toenemend gevind dat die opsies wat in Tzaneen beskikbaar was, ons werk baie bemoeilik het. Die visie het onstaan om ‘n pleeghuis te stig waar kinders geplaas kon word omdat daar geen ander behoorlike fasiliteite beskikbaar was wat plek gehad het nie. So het ons twee jaar gelede begin werk om ‘n pleeghuis tot stand te bring,” sê Serena McLaren, streeksbestuurder van die SAVF in Limpopo.

Die SAVF het op 1 Augustus besit geneem van die huis in King Edwardrylaan en werk tans daaraan om die funksionering te vestig.

“Ons benodig mense wat geroepe voel om met kinders uit gebroke gesinne te werk, om as pleegouers aansoek te doen. Gekeurde pleegouers moet in terme van artikel 150 van die Kinderwet, Wet 38 van 2005, as pleegouers geregistreer word.

“Die doel is om kinders wat uit swak sosio-ekonomiese en riskante huishoudings kom, toegang tot hulpbronne te gee soos terapie, buitemuurse aktiwiteite en mediese dienste; en die belangrikste, liefde en waardering.”

Tans werk hulle daaraan om die huis te meubileer en benodig alles wat enige ander huis nodig het om te funksioneer.
“Intussen gaan ons begin om die statutêre prosesse in die Kinderhof af te handel vir die kinders wat in gevaar is. Sodra alles in plek is, kan die visie van die Huis van Hoop verwesenlik word.”

• Inwoners word uitgenooi om ‘n Kombuistee vir die Huis van Hoop by te woon. Dit vind op 13 Augustus op die perseel, King Edwardrylaan 5, plaas vanaf 11:00 tot 17:00.

“Kom geniet ‘n koppie koffie of tee en ‘n versnapering deur die dag. Ons sal daar wees om belangstellendes te ontvang en vrae te beantwoord,” nooi die SAVF uit.

Hulle sal skenkings van linne, kombuis- of badkamerware of enige ander skenkings verwelkom. Skoonmaakmiddels kan ook geskenk word.

RSVP by Daniëlle by 064 890 0462 of Hannelie by 083 305 3612.
Kontak Ilza Roelofse, 082 773 0471 vir meer inligting oor die Huis van Hoop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button