Editor's choiceEntertainmentLifestyle

Besoek jy nog die Bib?

In my kinderdae was die dorp se biblioteek een van my heilige plekke.

Ons het ook nie eens so ‘n grote soos Tzaneen gehad nie.

My tuisdorp se hele bib sou waarskynlik in ‘n standaard eenslaapkamer woonstelletjie kon pas.

En tog onthou ek dit anders. Ek onthou myle en myle se boeke.

Al my ou vriende was daar. Die Otters, Trompie, Joof en sy maats, Die Uile en ja, selfs ou Saartjie.

My Engelse leestandjies het ek op die Hardy Boys gesny.

Frank en Joe was my helde.

Twee tieners wat grootmens skelms keer op keer laat les opsê het saam met hulle getroue vriende Biff en Chet.

Ek onthou ook hoe die saak waarmee hulle besig was, amper soos klokslag, aan die einde van die boek uitgedraai het om verwant te wees aan die saak wat hul vader (meester speurder) Fenton Hardy op daardie tydstip besig was om te ondersoek.

Dan was daar ook The Famous Five, The Secret Seven en talle ander gunstelinge.

Later het Etienne van Heerden en André P. Brink se boeke my deur my ontwaking as jong volwassene gedra.

Caspirs en Camparis deur Van Heerden was waarskynlik die grootste enkele politiese deur wat lees in my brein afgeskop het.

Later het Bruce Courtenay se Power of One die laaste oorblywende splinters verwyder en het ek met ander oë na my Suid-Afrika begin kyk.

Vandag is ek ‘n inwoner van Tzaneen, een van die drie finaliste in Kwêla se Dorp van die jaar kompetisie (SMS Tzaneen na 33157 om te stem vir ons dorp. ‘n Sms kos R1.50 en jy mag soveel keer stem soos wat jy wil) en ek besoek byna weekliks die plaaslike biblioteek.

Ek wonder net hoeveel ander inwoners maak nog daar ‘n draai.

Laat hoor van julle.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Letaba Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button