Slimste ding was om met ma te trou
My pa was 'n slim ou wat baie slim dinge in sy lewe gedoen het. Sekerlik die slimste van al hierdie slim dinge was toe hy met my ma getrou het.
‘n Meisiekind, destyds van Polokwane se wêreld wat haar hoërskooljare aan PHS deurgebring het en daarna as lugwaardin die wye wêreld in is.
So het sy ook op een van haar vlugte haar toekomstige man ontmoet.
Na my pa se dood het hierdie mens die pot aan die kook gehou.
Drie kinders (waarvan EK een was!!) het nooit ‘n ete of ‘n sport toer gemis nie.
Drie kinders met al die nodige boeke, geleenthede en gesonde drome.
Al drie deur haar hand tot mens gevorm.
Die laaste tien of wat jaar voor haar aftrede, het sy skoolgegee by ‘n verbeteringskool in Gauteng.
Daar het sy kinders, wat sommige van geboorte af al die donker sy van die wêreld leer ken het, in haar arms geneem en soos haar eie behandel.
Met haar aftrede het hierdie kinders meer as net ‘n onnie verloor.
Vandag reis sy so kuier-kuier as afgetredene deur die land.
Familie, vriende.
Een na die ander bespreek hulle ‘n kuier.
Met Moedersdag wat hierdie naweek plaasvind is ek jammer my ma was nie nader nie.
Ek sou graag haar ‘n druk wou gee en bedank namens myself, my broer, my sussie en al daai kinders in haar tyd by die skool, vir die uitsonderlike mens en moeder wat sy is.



