AGS vrouekonferensie ‘n reuse sukses
AGS Randfontein en AGS Greenhills span hul kragte in om 'n suksesvolle vrouekonferensie vir die vroue in die gemeenskap aan te bied.
AGS Randfontein, in samewerking met AGS Greenhills, het op 8 Februarie ‘n vrouekonferensie aangebeid met die doel om die vroue van Randfontein na God te lei.
Volgens een van die organiseerders van dié geleentheid, Pastoor Chrisna Grobler, het die geleentheid by AGS Randfontein gemeente plaasgevind en sowat 315 vrouens het die geleentheid bygewoon.
“Die dag was ‘n reuse sukses en ons bedank elke vrou wat dit die moeite werd geag het om die geleentheid by te woon. Ek glo en vertrou dat elke vrou teenwoordig ‘n woord van God ontvang het,” vertel Chrisna.
Sy vertel verder dat die doel van dié konferensie was om vroue aan te spoor om hul probleme en tekortkominge by Jesus se voete neer te lê.
Die gasspreker tydens die geleentheid was Nicolette Steele en haar boodskap het, volgens Chrisna, elke vrou teenwoordig geïnspireer en aangeraak.
Behalwe vir Nicolette wat die vrouens toegespreek het, het die drama en dansgroepe van beide die AGS Randfontein- en- Greenhills gemeente diegene teenwoordig met hul talente bedien.
“Die dag kon nie beter uitgedraai het nie, en daarom bedank ek elkeen wat soveel moeite gedoen het om van die dag ‘n sukses te maak,” vertel Chrisna.



