Riebeeckrand groet ‘n legende
Dit is met groot leedwese dat Hoërskool Riebeeckrand afskeid neem van Barnie Bootha na sy afsterwe.
Barnie Bootha het op 27 Februarie om 1.30vm sy stryd teen kanker verloor en laat ‘n groot gaping in Hoërskool Riebeeckrand agter.
“Barnie sal altyd onthou word as ‘n groot man met ‘n hart so groot soos die see – daar was altyd plek vir nog ‘n vis en nog ‘n druppel water,” vertel Hoërskool Riebeeckrand bemarker, Rickus Kruger.
Sy vriendelike geaardheid en skalkse glimlag sal op elke stoep, trap en op die speelgrond gemis word.
Dié gedrewe man wat by die atletiek, rugby, netbal en hokkie bo die ander mense uitgetroon het, sal nooit weer skaduwee op die veld af ets nie, maar sy legende sal in elke Riebeeckrand onderwyser en leerling se hart bly.
“Sy geloof in God sal vir almal van ons die gawe wees wat ons wil onthou.
“Sy uitsien na die lewe sal ons altyd hoop gee vir die toekoms.
“Sy liefde vir sy naaste, sal vir almal iets wees om na te streef,” vertel Rickus.
Hy was die hart van Riebeeckrand se sport en was vir die afgelope 15-jaar sportbestuurder.
Hy het mooi tradisies agter gelaat en gaan baie gemis word.



