Randgate-slaggate nie meer ‘n grap
Inwoner se woorde skaars koud toe gebeur dit.
In ‘n onlangse herald-artikel het inwoner Charl Kruger gewaarsku dat slaggate voor sy huis in Tudhopestraat ‘n ongeluk gaan veroorsaak – ‘n paar weke later is sy vrou en 4-jarige seuntjie voor hulle hek deur ‘n motor gestamp.
“Ek het die pad opgery gekom en my flikkerlig aangesit om links in ons oprit op te draai. ‘n Motor agter my wat die slaggate dopgehou het, het nie gesien ek draai nie en is toe agter in my motor se kattebak vas. Ek moet stadig in my erf in draai omdat ek al twee bande verloor het. Ek blameer nie die persoon nie maar ons moes die R9 500 vir die skade opdok wat eintlik die munisipaliteit se goor paaie se skuld was,” het Elaine Kruger vies vertel.
Kruger meen hy skakel gereeld die munisipaliteit oor die slaggate voor sy huis maar kry nooit terugvoering nie en glo vas dit is omdat die munisipaliteit nie planne het om die pad reg te maak nie.
Lezaarlaan wat nou toegemaak is om die pad met stene uit te lê maak die situasie net soveel erger op die hoek van Smuts en Tudhope omdat die trokke nou daar deur ry om deur die dorp te beweeg.
“Hier is seker ‘n honderd trokke wat nou deur die dag hier verby ry en maak die stukkende pad net soveel erger. Ek laat nie meer my kinders toe om in ons voor erf te speel nie omdat ek bang is ‘n motor ry deur my muur of ‘n trok val dalk om by die skerp draai,” het Kruger gesê.
Kruger glo dat daar vier dinge moet gebeur om die veiligheid van hom en sy familie te virseker:
1. Die toegemaakte pad moet borde opkry wat verkeer veilig om die residentiële gebied vat en ook borde wat die motoriste waarsku om af te slek by die slaggate.
2. Daar kort ook borde in die hele Randgate wat swaar trokke by die huise verbied.
3. Daar moet ook stormwaterdreine gegrawe word sodat die reën water van die pad af bly want dit maak die slaggate net erger en maak die slaggate onmoontlik om te sien as dit vol water is.
4. Laaste is spoedwalle. Dit sal volgens Kruger die mense wat so jaag in die strate stuit en ook van die swaar voertuie twee keer laat dink voor hulle die pad gebruik.
Die munisipaliteit het die herald verwys na die woordvoerder en hy wou nie komentaar lewer nie.