Crime

Skietvoorval met zama zamas los twee buurtwaglede gewond

Twee buurtwaglede is onlangs tydens 'n skietvoorval met zama zamas gewond en gehospitaliseer.

Lede van die Glenharvie Buurtwag, Danie Swart en Justin Sutton, is onlangs tydens ‘n zama zama-skietvoorval gewond en gehospitaliseer.

Omstreeks 01:00 op 10 Februarie het die lede vermeende kabeldiewe vasgetrek wat besig was om kragkabels in Uitbreiding 3 te steel. Dit is volgens hooflid André Boshoff wat vertel het dat die vermeende kabeldiewe in die lang gras gaan lê het vir skuiling.

In dié tyd het die buurtwag ’n oproep ontvang dat nog diewe probeer om kabels van Uitbreiding 2 se substasie te steel. Die lede is toe onderweg om die voorval by die substasie te ondersoek.

Boshoff het verder gedeel dat daar by Uitbreiding 3 op die lede geskiet is, waarna hulle dadelik dekking in ‘n nabygeleë watersloot gesoek het.

Die kabels wat die vermeende kabeldiewe probeer steel het.

“Een van die zama zamas het nader beweeg en in die sloot gespring en Swart gevolglik in die voet geskiet. Nadat ‘n ander lid op die man begin skiet het, het hy uit die sloot gespring.

“Sutton het nader aan sy voertuig probeer beweeg waarna die diewe hom deur die bo-arm geskiet het. Hy het toe inmekaargesak en gemaak of hy dood is. Nadat die zama zamas hom kom bekyk het, het hulle hom gelos. Ek het na die toneel gehaas nadat ek om ondersteuning ontbied het,” het Boshoff verduidelik.

Beide Swart en Sutton is hospitaal toe geneem vir behandeling. Swart is geopereer en Sutton is onder waarneming. Boshoff het beklemtoon albei is in ‘n stabiele toestand.

Die substasie wat kabeldiewe vermoedelik probeer teiken het.

“Ons het al baie gepleit en ook vergaderings met ons polisie in Westonaria belê om ons te help met die probleme in ons area wat toeneem. Ons groot vergadering was vir 29 Januarie beplan, waarna die polisie nie eers opgedaag het nie. Ons as inwoners is regtig raadop,” het Boshoff uitgespreek.

“Die gemeenskap word al ‘n geruime tyd deur zama zamas geteister en kragkabels en infrastruktuur word deur hulle platgetrek. Dit is kommerwekkend om te sien hoe Glenharvie in ‘n oorlogsone verander het.

“Die zama zamas het reeds so ver gegaan om die polisiestasie se heining te steel. Ons het reeds sowat 17 sake gehad. My vraag bly staan: Wat is die oplossing? Of word ons aan ons eie lot oorgelaat?”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button