Vierde inbraak vir Randwes DBV: Bok se horing afgebreek, twee honde gesteel
Daar is vir 'n vierde keer by die Randwes DBV ingebreek. Die keer is hokdeure en slotte beskadig, 'n dier erg beseer en boonop twee honde gesteel.
Die Randwes DBV het vir ‘n vierde keer onder misdaad deurgeloop.
Inspekteur Rene van Straten het vertel dat daar in die vroeë oggendure van Woensdag, 29 November weer by die perseel ingebreek is. Hokdeure en slotte is beskadig, ‘n dier op hul perseel is erg beseer en boonop is twee honde gesteel.
“Ons het ‘n klein mak boerbokkie wat ons almal hier baie lief voor is, dis ons stoutste troeteldiertjie. Hul het vir een of ander onbekende rede haar een horing uit haar kop uitgeruk, binne in die skedel in afgebreek en ‘n baie groot oop wond oor meer as die halfte van haar ou klein koppie gelos. Twee van ons Rottweilers is uit ons hokke uitgesteel, een wat op pad was om aangeneem te word, en ‘n ander een wat ons verwyder het met ‘n hofsaak teen sy eienaar. Hy was vasgemaak en die ketting het binne in sy nek ingesny. Hy het nog die steke in sy nek van die wond is nog besig om gesond te word.”
Rene het verduidelik dat haar hart bitter seer is en dat hul hele span, komiteelede en werkers talle vrae het.
“Dis een ding as hul by die kantoor inbreek en goed van waarde steel of selfs ons hondekos, maar om diere leed aan te doen is absoluut onaanvaarbaar. Ons begin voel dit is iemand wat ons net leed wil aandoen. Ons almal was in trane oor die insident. Ek sien dieremishandeling op ‘n daaglike basis, maar om hier aan te gekom en een van ons eie so te sien … dit het my in stukke gebreek.”
Sy het vertel dat dit is hoekom hul die gemeenskap se hulp nodig het. Hulle is in ‘n afgeleë area en daarom het hul groot sekuriteits opgraderings nodig en moet die ekstra myl gaan om hul dierekinders en werknemers te beveilig.
“Ons kort komiteelede! Komiteelede wat bereid sal wees om in so insident ons werknemers en diere by te staan en met oplossings kan help oor hoe ons hierdie kan verhoed en die DBV positief te laat groei.”
Tans het die DBV enige sekuriteits items nodig, hul het ‘n kamera stelsel, maar daar is nie genoeg kameras om die hele plek te dek nie.
Enige maatskappye of individue wat op enige manier sekuriteit, slotte, traliedeure, lemmetjiesdraad, sinkplate of selfs finansieel kan bydra, kan die kantoor op 011 412 3114 kontak.





