Local news

Peuter maak Kersfees beter vir kleuters

Vyfjarige Haylee het besluit om Kersfees lekker te maak vir minderbevoorregte kinders.

Haylee Edwards (5) het besluit om vanjaar minder bevoorregte kinders se Kersfees pret te maak.

Volgens Haylee se ma Samantha, het hul besluit om Love and Hope Kleuterskool se 40 minderbevoorregte kinders te ondersteun. Haylee het dus besluit om verskeie bere en lekkernye te versamel. Hierdie Kersprojek is deel van Haylee se liefdadigheidsdoelwitte as ‘n 2025 Missy South Africa finalis.

Tot dusver het Haylee baie skenkings ontvang en kan amper ‘n vertrek vol teddiebere vul. Die skenkings stroom in van Randfontein en omliggende gebiede soos Carltonville en Krugersdorp. Dit is nie net buurdorpe wat skenkings gee nie, maar ook gebiede soos Springs en Brakpan wat reeds bere gegee het.

Die bere wat al ingesamel is.

Alhoewel hulle baie bere ingesamel het, vra Haylee die gemeenskap om lekkernye vir haar projek te skenk.

“Ek wil baie graag die kinders se harte bly maak en ‘n glimlag op hul gesigte sien. Ek wil hê dit moet vir hulle soos Kersfees voel,” het Haylee uitgespreek.

Samantha het vertel dat sy wou seker maak dat Haylee weet dat Kersfees nie net oor geskenke gaan nie.

“Kersfees gaan oor gee. Ek probeer haar altyd leer om nederig te wees, veral met Kersfees. As iemand bereid is om ‘n skenking te maak, sal dit baie waardeer word. As daar nog bere is nadat ons hulle by Love and Hope Kleuterskool uitgedeel het, sal ons die res in Randgate aan ander minderbevoorregte kinders uitdeel,” het sy gesê.

Indien iemand bereid is om te skenk, kontak Samantha by 082 824 7795.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button