Vrou, 27, wil net fietsry
Jana Jonker, 'n 27-jarige van Greenhills wil net fietsry – haar grootste droom is om aan die Cape Town Cycle Tour deel te neem.
Gee vir Jana Jonker, 27, net ‘n fiets, dan is sy in haar element.
Jana het in ‘n aktiewe gesin grootgeword. Toe hulle jonger was, het haar ouers baie sterk en kompeterend fiets gery. Sy en haar suster het gereeld saamgegaan en ook aan pretritte deelgeneem. Daar het haar passie vir fietsry ontwikkel.
Jana oefen drie tot vier maal per week en geniet dit om oor naweke Magaliesberg toe op haar bergfiets te ry en om die natuurskoon te geniet. Sy draf ook graag.

“Jou kop moet reg wees. Daar kom ‘n punt waar jy wil opgee as dit rof raak en jou bene wil nie meer saamwerk nie, maar dan moet jy deurdruk en bly beweeg. Jy moet natuurlik ook fiks wees en seker maak dat jy reg eet sodat jou brandstoftenk nie leegloop nie,” het Jana gesê.
Jana het vertel dat dit help om ‘n roete vooraf te bestudeer sodat jy weet waar die opdraandes, die afdraandes en die moeilike dele is, en waar jy ‘n bietjie kan herstel.
Haar grootste droom is om eendag die Cape Town Cycle Tour aan te durf. Die hoogtepunt in haar loopbaan was toe sy die 180km van die Maluti Double 90 vroeër vanjaar in Clarens voltooi het.
Haar wenk vir opkomende fietsryers is om die sport altyd te geniet.
“As jy resultate wil sien, moet jy die werk insit. As jy val, skud die stof en modder af, klim op jou fiets en ry verder,” het Jana vertel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



