R’fontein se reuse slot mik vir Junior Wêreldbeker
Kwagga na hy SA Skolespan verteenwoordig: ""Om die groen-en-goud te kon dra en die Volkslied te kon sing was die hoogtepunt van my rugbyloopbaan van 13 jaar."
Cristen van Niekerk, beter bekend as Kwagga is nog op koers om sy Springbok-droom te bewaarheid.
Die Herald het vroeër berig dat dié Greenhills-inwoner en reuse slot van 1,91m en 105kg ‘n lid van die o.18 Goue Leeus Cravenweek-span is. Die Cravenweek is die grootste provinsiale skolerugbytoernooi in SA met 46 spanne en meer as 1 000 spelers wat deelneem. Die toernooi het van 17 tot 22 Julie by St Stithians plaasgevind.

Kwagga het aan die Herald vertel dat die Leeus op dag een teen Grens gespeel het, en gemaklik gewen het. “Op dag drie het ons teen die WP gelykop gespeel. Die WP-span het die vorige drie jaar al hul wedstryde gewen. Daarna het ons teen die Sharks in die hoofwedstryd gespeel en ons het die wedstryd gewen,” het Kwagga gesê.
Na afloop van die Cravenweek, op 27 Julie, het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ‘n SA-skolespan van 28 spelers aangekondig. Kwagga was een van vier slotte in die span. Die span het toe van 6 tot 20 Augustus in Stellenbosch gebly waar hulle in ‘n toernooi teen Wallis, Frankryk en Engeland gespeel het.

Kwagga se heel eerste wedstryd daar was teen Wallis.
“Om die groen-en-goud te kon dra en die Volkslied te kon sing was die hoogtepunt van my rugbyloopbaan van 13 jaar,” het Kwagga gesê.
Hoewel dit nog net op o.18-vlak was, het ‘n lewensdroom vir Kwagga waar geword het omdat hy nog altyd die groen-en-goud oor sy kop wou trek.
Na die Wallis-kragmeting het die span teen Frankryk gespeel en ook hier is Kwagga gekies as lid van die beginspan. Gedurende die wedstryd is hy deur die kommentator en voormalige Springbok-vleuel, Breyton Paulse, as een van die uitstaanspelers in die span uitgesonder. Op Saterdag 19 Augustus het hulle hul laaste wedstryd teen Engeland gespeel.
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring wat ek altyd sal koester. Dit motiveer my om aan te hou hard werk,” het Kwagga gesê. Sy volgende mikpunt is om vir die SA o.20-span gekies te word wat aanstaande jaar aan die Junior Rugbywêreldbekertoernooi gaan deelneem.
Kwagga het Sondag 20 Augustus terug gevlieg Johannesburg toe. Dinsdag 22 Augustus het hy vir Monnas in die halfeindstryd van die Virsekerbeker – voorheen die Beeldtrofee – teen Garsfontein gespeel en Saterdag 26 Augustus in Nelspruit in die eindstryd teen Nelspruit vir Monnas uitgedraf. Monnas het as oorwinnaars uit die stryd getree en Kwagga kon sy jaar op nog ‘n hoogtepunt afsluit. Kwagga is ook op die gesogte rugbywebwerf Ruggas.co.za as Skolerugbyspeler van die Jaar genomineer.
Ruskans is egter min aangesien Kwagga alreeds by die Leeus o.19 Curriebeker-span oefen en besig is met sy rekordeksamen. Kwagga glo egter steeds dat harde werk beloon word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



