Dans het Jessica van boelies gered!
'n Elfjarige was van jongs af die teiken van boelies, maar nou dans sy en dit laat haar van hulle vergeet.
Van jongs af was Jessica van Loggerenberg, 11, die teiken van boelies, daarom het sy haarself van die wêreld onttrek.
Sy het ongeveer ‘n jaar gelede besluit dat sy wil dans nadat sy die TV-realiteitsreeks Dance moms vir ‘n geruime tyd gevolg het – ‘n besluit wat sy glo haar lewe verander het.
“Dans help my om my emosies uit te druk en om my seer te verminder,” het Jessica gesê.
Sy het nooit tevore aan enige sport deelgeneem nie en het ook nie maats gehad nie.
Haar ma, Brenda het aan die Herald vertel dat Jessica voorheen chronies aan asma gely het. Vandat sy begin dans het, het sy geen asmasimptome nie.
Jessica se gunsteling danssoort is Energy, ‘n baie vinnige dansvorm wat haar van haar irritasies en frustrasies laat ontslae raak.
‘n Hoogtepunt vir haar was toe sy vroeër vanjaar aan haar eerste kompetisie deelgeneem het en agste uit 30 dansers geëindig het. Sy het daarna aan verskeie ander kompetisies deelgeneem en in elkeen uitstekend presteer.
Sy oefen een maal per week by haar dansskool Rhythm in Us, en daagliks by die huis sodat sy goed kan vaar in die kompetisies wat voorlê.
Dans laat haar ontspan en haar skoolpunte het ook drasties verbeter sedert sy aan die sport deelneem.
Sy glo dat ‘n goeie danser …
• ‘n passie vir dans moet hê
• dit moet geniet om te dans
• doelgerig moet wees
Vir Jessica gaan dit nie oor wen nie, maar om haarself te geniet. Sy wil graag ander inspireer wat in soortgelyke situasies is om ‘n droom en passie te kry om na te strewe.
Sy werk hard daaraan om haar droom uit te leef en om eendag haar grootste droom te bewaarheid – om ‘n professionele danser te wees.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



