Van plaasmeisie tot Wêreld se #1
Esté Lubbe, ‘n plaasmeisie van Loumarina in Randfontein het haar kategorie tydens ‘n Wêreldkampioenskap in die VSA gewen.
Esté Lubbe van Loumarina Plotte was baie emosioneel toe hulle haar naam by die NABBA/ WFF Wêreldkampioenskappe in die VSA aangekondig het as die Wêreldkampioen in haar
kategorie.
Die 29-jarige plaasmeisie het vertel dat woorde nie kan beskryf hoe dit gevoel het om te wen nie.
“Dit was vir my ‘n groot oomblik en presies waarvoor ek die afgelope vyf jaar gewerk het. Ek is aangewys as Wêreldkampioen in die amateurkategorie en ek het my Pro-kaart ontvang, dus is ek nou ‘n professionele liggaamsbouer. Dit was alles deel van ‘n hoogtepunt in my loopbaan,” het sy gesê.

“Ek het glad nie gedink dat ek sou wen nie; dit was vir my genoeg net om te kon deelneem. Ek het aan die kampioenskappe deelgeneem omdat dit ‘n ongelooflike ervaring vir my sou wees. Dit was my droom om op ‘n internasionale verhoog teen die res van wêreld deel te neem.
Ek het natuurlik baie hard gewerk en was aangenaam verras, want ek het dit nie verwag nie.”
Esté het gesê dat sy baie rustig op die verhoog gevoel het, want sy het geweet sy gaan net haar beste gee. Die kompetisie was baie taai en volgens Esté was dit duidelik dat dit van wêreldgehalte was. Sy kan nie uitgepraat raak oor haar ervaring in Kalifornië, Amerika nie.
“Die vlug daarheen was rof, want ek en my man kon nie saam met die span vertrek nie omdat ons visums nog nie reg was nie. Ons het ‘n paar dae later vertrek en ek het byna niks op die vlug geslaap nie. Ek het maar deurgaans probeer oefen en aktief bly op die vliegtuig, want dit was 25 uur lank. Ek het spesiale kos versoek omdat ek op ‘n streng dieet is en gelukkig het hulle my baie tegemoet gekom.

“Om Amerika te kon sien was ‘n onbe-skryflike ervaring, maar ek is bly om weer terug in Randfontein te wees.”
Sy gaan egter nie binnekort ophou om aan liggaamsboukompetisies deel te neem nie, want sy het nog baie doelwitte wat sy graag wil bereik.
“Noudat ek ‘n professionele liggaamsbouer is, kompeteer ek ook op ‘n ander vlak. Daar is baie waarna ek uitsien wat liggaamsbou aanbetref, want my doel is nou om Wêreldkampioen in die professionele kategorie te word,” het sy gesê.

Sy het soveel onder-steuning van R’fonteiners en eintlik regoor Suid-Afrika ontvang. Verskeie borge het dit vir haar moontlik gemaak om haar droom te bewaarheid.
“My grootste borg, CBS Logistics in Pretoria het byna 90 persent van my kostes gedek, en Peritus Forex in Florida het my ook baie gehelp. Ek is so dankbaar vir elkeen van hulle.
“Dit voel nog vir my of ek droom en ek kan nie glo wat ek alles bereik het nie,” het Esté bygevoeg.
Besoek ons gallery vir nog foto’s.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



