Frank, CANSA eindig toer op hoogtepunt
CANSA-fietsryers en Frank Barnard, ‘n plaaslike fietsryer en skrywer van 'Pelgrimsreis van Hoop', het hul fietstoer met 'n groot verwelkomingspartytjie by Buffalo Ranch afgesluit.
Frank Barnard, ‘n plaaslike fietsryer en skrywer van Pelgrimsreis van Hoop, het sy fietstoer saam met die CANSA-fietsryers op ‘n hoogtepunt afgesluit.
Frank het tydens die toer ook sy boek bekend gestel. Hulle het op 2 Junie in die pad geval en is op 15 Junie terugverwelkom tydens ’n groot makietie by Buffalo Ranch in Pelzvale. Die doel van dié verwelkomingspartytjie was om die fietsryers te bederf na die lang fietstoer.

“Hulle het 1 046 kilometer gery en dit was nie altyd vir hulle maklik nie. Ons het vir hulle ‘n verwelkomingspartytjie gehou om die toer af te sluit. Ek het van Fochville af saam met hulle gery en ons het die verkeersdepartement gevra om ons te vergesel,” het Johan van Wyk, bestuurder van Buffalo Ranch gesê.
Buffalo Ranch het ‘n spesiale fondsinsameling vir CANSA gehou en het R5 700 tydens die geleentheid aan die organisasie oorhandig. Volgens Johan het sommige Randfonteiners geld direk by CANSA inbetaal en hy glo die totale bedrag wat ingesamel is, is baie groter.
“Ons het vir hulle versnaperings en geskenke gegee, en skyfies van hul toer vertoon om hulle te wys wat hulle vermag het. Die drie vroue wat deel van dié toer was, het elk ‘n geskenkbewys vir ‘n oormaaksessie gekry,” het hy bygevoeg.




