Sussies haal uit en wys by Talent America
Deonè en Nadine Scheepers het met hul instrumente en stemme nuwe hoogtes bereik tydens Talent America.
Twee susters het onlangs uitgeblink tydens Talent America.
Dié kompetisie is ‘n geleentheid waar talle talentvolles van regoor die wêreld kan wys wat in hul steek.
Deonè, 13, en Nadine, 11, Scheepers het in Desember 2020 aan Talent America deelgeneem wat aanlyn plaasgevind het weens die Covid-19 pandemie.

Yolandi Scheepers, hul ma het vertel dat hulle pad na Talent America begin het deur in 2019 aan die RACA Eisteddfod deel te neem.
“As jy ‘n platinum- of diamanttoekenning gekry het, het jy gekwalifiseer vir Talent Africa, en as jy goud verwerf het by Talent Africa dan is jy gekies vir die Suid-Afrikaanse span om aan Talent America deel te neem,” het Yolandi vertel.
By Talent Africa het Nadine ses en Deonè ‘n indrukwekkende nege gouemedaljes verwerf.
Tydens die Talent America-kompetisie het Deonè haarself in die pop-afdeling op die kitaar begelei en gesing, terwyl Nadine haarself op die klavier begelei en gesing het – ook in die pop-afdeling. Deonè het ‘n sesde plek verwerf en Nadine ‘n tweede plek, en Nadine kry ‘n ‘call-back’ van ‘n talentagentskap in Amerika.
Albei susters kan ‘n paar instrumente bespeel, soos die klavier, kitaar, en elektriese kitaar, en sing ook goed.
“Hulle het besluit om aan die eisteddfods deel te neem omdat dit ‘n platform skep waar hulle kan sien hoe hulle vorder en groei, en waaraan hulle nog kan werk. Hulle kan natuurlik ook hul nasionale kleure kry,” het Yolandi vertel.
Nadine het vertel dat hulle mal is daaroor om op te tree maar dat hulle soms moeg raak vir oefen. As hulle dan weer hul goeie uitslae en mense se glimlagte sien wanneer hulle optree is dit vir hulle die moeite werd.
Die kompetisie was groot en baie straf want daar is regtig ongelooflike talent, maar dit was ‘n goeie ervaring en blootstelling,” het Deonè vertel.



