Hy dra sy Luiperds-trui met trots!
Andries Truter van Culemborgpark wat deesdae vir die Luiperds uitdraf het 'n indrukwekkende rugbyloopbaan.
Wanneer Andries Truter van Culemborgpark nie met sy werk as verkoopskonsultant by FDC Projects besig is nie, draf hy uit vir die Luiperds van Potchefstroom wat in die Eerste Divisie van die Curriebeker meeding.
Die 30-jarige Andries speel sedert Augustus verlede jaar vir die rugbyspan van Noordwes, maar sy loopbaan is indrukwekkend.
Andries was in sy universiteitsjare lid van Maties in die Varsity Cup-span, en hy het vertel hoe sy loopbaan ‘n hupstoot gekry het toe hy vir die Westelike Provinsie se juniors gespeel het. Hy was boonop lid van die span wat die junior Curriebeker gewen het. Volgens Andries het nog voorregte hom te beurt geval toe hy as kaptein van die Valke-rugbyspan gekies is, die Eerste Divisie Curriebeker-eindstryd gehaal het, en die Agterspeler vir die Jaar-toekenning ontvang het.
Een van die grootste hoogtepunte van sy loopbaan was toe hy in Maart verlede jaar in Australië vir die Malaysia Valke teen die Western Force uitgedraf het tydens die Global Rapid Rugby-kompetisie. Die Malaysia Valke se hoofkwartier was in die Maleisies hoofstad Kuala Lumpur. Die span is in 2019 gestig as ‘n gesamentlike onderneming van die Maleisiese Rugbyowerheid en die Valke Rugbyunie van Suid-Afrika, maar is ‘n jaar later ontbind nadat die 2020-seisoen weens die wêreldwye pandemie nie afgehandel kon word nie.
Nou is dit vir Andries ‘n groot voorreg om as senter onder die voormalige Springbok André Pretorius se leiding vir die Luiperds te speel.
Vir Andries is rugby ‘n unieke sport en hy het vir die Herald vertel hoe moeilik dit is om nie rugby in sy lewe te hê nie.
“Dit skep baie herinneringe, broederskap en band tussen manne wat jou altyd sal bybly. Natuurlik is daardie yskoue bier in die kleedkamer na ‘n taai stryd lekker,” het Andries gesê.
Alhoewel sy werk as verkoopskonsultant vir hom belangrik is, bly rugby sy grootse passie – ‘n liefde wat hy reeds van jongs af ontwikkel het. Hy het vertel dat rugby vir hom ook waardes leer soos deursettingsvermoë, selfdissipline en om hard te werk.
“Mens moet altyd jou beste gee en dan weet dat jou beste goed genoeg is al wen of verloor jy.”
Verder neem Andries graag aan uithoumotorfietswedrenne deel, en hy hou van braai en jag. Die heel lekkerste vir hom is egter om saam met familie en vriende te kuier.



