Perdry is beslis die 14-jarige Jana Martins se passie.
Magda, Jana se ma, het die Herald vertel dat haar dogter van kleins af versot is op perde. Op sesjarige ouderdom het sy reeds aan haar eerste SANESA-skoleperdrykompetisie deelgeneem.
“Sy neem graag deel aan Western Riding-kompetisies wat bestaan uit verskeie afdelings, en ruiters kan kies vir watter afdelings hulle wil inskryf.”
Dit is elke keer ‘n nuwe uitdaging maar Jana geniet dit vreeslik, volgens Magda.
Sy het ‘n tweede en derde plek verower toe sy Gauteng by die Nasionale Kampioenskappe in 2019 verteenwoordig het. Daar het sy aan Western Horsemanship, Western Pleasure en Western Trail Horse deelneem.
“Wanneer sy perdry voel dit asof dit die oomblik is waarvoor sy geskape is; sy leef absoluut daarvoor,” het Magda gesê.
Toe Jana ‘n kleuter was, het sy by ‘n vakansieoord ‘n perdpretrit gedoen en sy was dadelik verlief op perdry.
Jana oefen een keer ‘n week op Vrydae, en dit is vir haar ‘n goeie manier om ‘n bietjie van die skoolweek weg te breek. Kort voor groot kompetisies oefen sy twee middae per week.
Jana het ‘n baie spesiale band met haar perd, Calcrete Desperado Prince. “Ons verstaan mekaar,” het Jana gesê terwyl Magda bygevoeg het dat haar liefde vir diere grotendeels bydra tot haar passie vir die sport. Jana wil eendag ‘n veearts word en elke dag met perde werk.
“Wanneer sy op die rug van ‘n perd is vergeet sy van alles, en voel vry en sorgeloos. Dit is hope pret, baie fisiese oefening maar ontspannend. Dit behels ook baie ander aspekte soos die versorging van die perde en stalle skoonmaak.”
Jana moedig dié wat met die sport wil begin aan om nie uit te stel nie.
“Volg jou droom en moet nooit opgee nie; en as jy ooit van jou dierevriend se rug afval, vee die stof van jou stewels af, lig jou ken en klim weer op!” is Jana se raad.



