Ram trots op hul provinsiale skuts
Tien huidige en voormalige Laerskool Randfontein-leerders is opgeneem in die Provinsiale Boogskietspan vir 2020.
Laerskool Randfontein is trots op 10 van hul huidige asook voormalige leerders wat onlangs in die Provinsiale Boogskietspan van 2020 opgeneem is.
Skoolwoordvoerder en boogskietafrigter Annie Nolan het verduidelik dat hierdie leerders ongelukkig nie hul toekennings in die saal kon ontvang nie, maar dat dit in die hoof, Leon Haupt, se kantoor op Vrydag, 13 Augustus aan hulle oorhandig is.

“Die hoof het die skuts geluk gewens en vir elkeen hul goue boogskietbalkie, provinsiale kleure asook ‘n sterkte-pakkie oorhandig.”
Hulle name gaan op die skool se Ererol in die saal geplaas word.
“Ons boogskietspan kwalifiseer om aan die SA’s deel te neem, wat ‘n ongelooflike prestasie is tydens die inperking. Die span kon net aan vier ligakompetisies deelneem as gevolg van al die Covid-19 beperkings.”
Volgens Annie het die Covid-19 inperkings nie die skuts beïnvloed nie en hulle het steeds konstant geoefen.
“Die provinsiale skuts van 2020 het nooit die geleentheid gekry om deel te neem nie, want elke keer as ‘n kompetisie geskeduleer word, dan word die inperkings erger. Die leerders wag al sedert verlede September om vir hul kleure te skiet.”

Voor: Lelani de Beer, Riaan Cilliers en Henk Nolan in hulle provinsiale kleure. Foto: Annie Nolan.
Sy het vertel dat dit alles verander het toe hulle skuts die geleentheid gekry het om op Saterdag, 14 Augustus aan ‘n kompetisie deel te neem wat via Skype plaasgevind het. Hulle het met skuts van Limpopo, die Wes-Kaap en Noordwes meegeding.
Annie het verduidelik dat daar ‘n provinsiale boogskietspan vir 2021 aangekondig gaan word, en daardie skuts neem deel aan die nasionale kampioenskappe wat in September ook oor Skype gaan plaasvind.
“Ons is baie opgewonde en kan nie wag dat die span aangekondig word nie.”
Die leerders wat nog in Ram is, en span gehaal het, is:
• Armand Martins
• Lelanie de Beer
• Riaan Celliers
• De Wet Kriel
• Henk Nolan
Die volgende skuts, oudleerders van Ram wat tans in verskeie hoërskole is, ontvang steeds hul erkenning:
• Mieke Oosthuizen
• Hanco van Staden
• Iwan Pretorius
• Simoné de Beer
• Jana Martins



