Randfontein-gimnas mik hoog
'Ons het gimnastiek oorweeg want dit bevorder goeie algehele gesondheid en liggaamsbou. Daar was ook vir ons baie voordele en sy het beslis so van haar oortollige energie ontslae geraak.'
‘n Jong gimnas van Randfontein droom om eendag haar passie by die Olimpiese Spele uit te leef.
Coraldi Beckmann is ‘n 13-jarige gimnas by Summit Gimnastiekklub in Krugersdorp wat op die ouderdom van ses jaar met gimnastiek begin het.
Sy het reeds die volgende jaar haar Sentraal-Gauteng halfkleure verwerf, en twee jaar later, toe sy nege was, is haar Sentraal-Gauteng volkleure aan haar toegeken.

Sy het vertel dat sy van kleintyd af daarvan hou om bollemakiesie te slaan en trampolien te spring.
“Ek het wawiele gemaak in plaas van loop,” het Coraldi vertel.
Haar ma Este het vertel dat hulle as ouers geglo het dat hul dogter ‘n talent het wat sy moet uitleef.
“Sy was nog altyd baie soepel, en ons het gimnastiek oorweeg want dit bevorder goeie algehele gesondheid en liggaamsbou. Daar was ook vir ons baie voordele en sy het beslis so van haar oortollige energie ontslae geraak.”
Hier is ‘n paar van haar prestasies:
• Sy was die Suid-Afrikaanse kampioen vir vlak 4 in haar ouderdomsgroep in 2018, en in dieselfde jaar verwerf sy ‘n gouemedalje vir balk in artistiese gimnastiek.
• Sy ontvang aan die einde van 2018 die Sentraal-Gauteng-toekenning vir vlak 4-tuimel.
• Coraldi word in 2019 uitgenooi na ‘n internasionale tuimelkliniek in Pretoria.
• Sy neem in 2020 deel aan die proewe vir die African Championships wat in April sou plaasvind. Sy het aan al die kriteria voldoen vir insluiting in die span, maar weens die inperking is die span nooit aangekondig nie en die kampioenskappe het nooit plaasgevind nie.
• Sy het aan die begin van 2021 aan ‘n nasionale oefenkamp deelgeneem waar sy gekies is vir die Hoëprestasiespan.
Coraldi oefen tans om ‘n plek in die Suid-Afrikaanse span te kry vir die Jeugspele wat in Desember gehou gaan word.
“Ek hou die meeste van tuimel, maar my gunstelingapparaat die perd,” het Coraldi vertel.
Sy oefen tans tussen drie tot vyf uur per dag, ses keer ‘n week.
Haar ma vertel dat Coraldi tans op vlak 6 vir artistieke gimnastiek is en sy hoop om in Oktober by die Gym Games ‘n medalje te wen.

“Sy weet dat gimnastiek vir haar baie deure oopmaak en geleenthede gee, en sy hoop om eendag deur haar sportagtergrond self af te rig of ‘n fisioterapeut vir deelnemers aan hierdie sport te wees.”
Volgens Coraldi is die Olimpiese Spele haar droom, en sy kyk oor en oor daarna.
“Ek hou daarvan om te kyk of ek die verskillende dinge kan uitken en dalk ‘n paar nuwes kan byleer.”



