KidsLocal newsNewsSchools

Unie glo beskerming van leerders 'ononderhandelbaar'

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie glo met die sperdatum van 31 Maart 2027 wat nader kom, sal die toepassing van 'n hofbevel oor die verifikasie van onderwysers teen nasionale registers ’n belangrike toets wees van die staat se vermoë om leerderveiligheid as ’n praktiese prioriteit te hanteer.

Dems Nel, hoof van Regsdienste by die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die beskerming van kinders moet die vertrekpunt wees van enige maatreëls om seksuele wangedrag en mishandeling in skole te bekamp.

Nel verwelkom die hofbevel wat die Departement van Basiese Onderwys en provinsiale onderwysdepartemente verplig om alle skoolpersoneel wat met leerders werk teen die Kinderbeskermingsregister (KBR) te verifieer.

“Die veiligheid van ons kinders behoort nie onderhandelbaar te wees nie,” sê Nel.

Die keuring moet volgens die hofbevel teen 31 Maart 2027 afgehandel wees.

Nel waarsku egter dat die sperdatum alleen nie voldoende is om leerders te beskerm nie.

Die stelsel moet volgens hom ook oor genoeg kapasiteit beskik om ondersoeke vinnig en deeglik af te handel.

Sy kommer kom te midde van die omvang van kindermishandeling wat in Gauteng aangemeld word. Die Gautengse Departement van Onderwys het tussen 2023 en 2026 altesaam 22 020 gevalle van kindermishandeling aangeteken.

Van dié verslae is 18 843 deur die departement se 24-uur-hulplyn ontvang.

Die syfers bied volgens Nel belangrike konteks vir die behoefte aan ’n stelsel waarin klagtes nie net aangemeld word nie, maar ook betyds opgevolg word.

Die Spesiale Ondersoekdirektoraat het 155 sake ondersoek. Dit het onder meer 15 gevalle van lyfstraf, sewe gevalle van afknouery deur opvoeders, twee gevalle van aanranding van leerders deur opvoeders en sewe gevalle van seksuele mishandeling waar opvoeders of skoolhoofde betrokke was ingesluit.

Die departement kon nie aandui hoe lank ondersoeke na die aangemelde sake gemiddeld duur nie.

Vir Nel is dit ’n probleem omdat vertraagde ondersoeke die doeltreffendheid van leerderbeskerming kan ondermyn.

“Wanneer polisie- en justisiestelsels nie genoeg kapasiteit het om sake te ondersoek en te vervolg nie, kan ernstige seksuele misdrywe vir jare sloer,” sê Nel.

Hy beklemtoon dat keuring ook nie beperk moet wees tot personeel wat tans in die openbare onderwysstelsel werk nie. Volgens hom moet daar gekyk word na die risiko dat persone wat een openbare skool of provinsie verlaat, elders met kinders kan begin werk.

Die hofbevel plaas juis groter klem op die identifisering van persone wat wetlik as ongeskik beskou word om met kinders te werk.

Die keuringsproses behels die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders en die Nasionale Kinderbeskermingsregister.

Die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders bevat inligting oor persone wat aan bepaalde seksuele oortredings teen kinders of mense met verstandelike gestremdhede skuldig bevind is.

Die Kinderbeskermingsregister bevat weer inligting oor persone wat weens mishandeling, verwaarlosing of uitbuiting as ongeskik verklaar is om met kinders te werk.

Nel sê die fokus moet daarom op meer as net die voltooiing van die keuringsproses wees.

“Ons moet dus nie net vra hoe ons seksuele oortreders uit die onderwys kan hou nie, maar ook hoe ons ’n stelsel kan skep waarin kinders veilig is, klagtes ernstig opgeneem word en oortreders vinnig aanspreeklik gehou word,” sê hy.

Hy meen skole moet ook oor voldoende ondersteuningsdienste beskik.

Maatskaplike werkers en emosionele ondersteuning is volgens hom noodsaaklik wanneer ’n kind ’n slagoffer of getuie van seksuele wangedrag is.

“Kinders moet weet waarheen om te gaan en met wie hulle kan praat, hetsy as slagoffers of getuies van seksuele wangedrag,” sê Nel.

Die uitdaging is dus tweeledig: om te keer dat ongeskikte persone toegang tot kinders kry, en om te verseker dat aangemelde voorvalle vinnig en behoorlik hanteer word.

“’n Veilige skool is nie ’n luuksheid nie. Dit is ’n noodsaaklikheid, en ’n reg!” sê Nel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button