Kruispad toe – met die blues
Ses musikante het hulle uitstekend van hul taak gekwyt om hulde aan die oorspronklike Blues-kunstenaars te bring.
’n Mens stap die Fairtree Atterbury Teater in met verwagting. Blues by die Kruispad. Ja, Blues in ons eie bakermat van Afrikaans – in Afrikaans?
My verwagtinge is oortref. Sonder twyfel. Nee, die hele vertoning was nie in Afrikaans nie – maar was die reis van die Kruispad af (Robert Johnson 1930?) Tot in ons eie teater met ons eie komponis, Marcel Dednam, wie se treffer Blues by die Kruispad verseker die hoogtepunt van die aand was.
Maar die vertoning het nie net stadig opgebou na die klimaks toe nie. Daar was ’n brander van versugtende saksofoon, gerugsteun deur standhoudende bas en tromme, met die stem van Nelmarie Rabie wat dan onder die note deurstryk en dan met die grootste gemak die hoës haal … die perfekte stem vir dié genre.
Met elke golf het die gehoor gesug van afwagting vir die opbou, en met verrukking met die afspeel na die kabbelende skuimbranders op die sand meegemaak.
En dan spontaan uit die gehoor “Julle maak my huil” … terwyl die gehoor gelag het hiervoor is dit ’n aanduiding van die feit dat die musiek – en die meesterlike wyse waarop dit vir die gehoor aangebied is – emosie wek.
Mens moet melding maak van Nelmarie Rabie se weergawe van The Tennessee Waltz. Woorde is moeilik om te vind, so ek volstaan by “die beste wat ek al gehoor het”.
Christiaan Rabie op elektriese kitaar het gewys hy staan vir g’n niemand terug nie – en my kritiese afwagting toe die ikoniese Crossroads (die oorspronklike Memphis-song begin het ) het my laat dink die man kan. Die hele band kan! Want sonder die man agter die klawers Marcel en sy vrou Deryn op die saksofoon, en die gemaklike wyse waarop Werner Spies die kontrabas se klanke bygevoeg het, ondersteun deur die tromme van Peter Auret – sou my gunsteling Blues-nommer nie hierdie hoogtes bereik het nie.
Vir die gehoor getroue bluesliefhebbers was daar Bonamassa, Stevie Ray Vaughn, en natuurlik die ene Sir Eric Clapton se musiek om te geniet. Selfs twee Amanda Strydom-nommertjies is meesterlik vertolk.
Ja, Nelmarie praat gemaklik oor ’n moontlike “Clapton Chronicles” vertoning – kan dit volgende op die lys wees? Sy het aan Rekord gesê dat dit haar sommer skielik binnegeskiet het, maar dat dit nie ontmoontlik is nie. Durf ons hoop dat hierdie sesstuks Pretoria-kunstenaars dalk ook ’n Fleetwood Mac-aand se genot aan uitgehongerde liefhebbers kan bring?



Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
