Local newsNews

Wit jakaranda staan uit in veld van pers

Die wit jakarandaboom is ‘n baie rare verskynsel wat die min wat hulle waarneem se asems wegslaan. Rekord het meer uitgevind oor hierdie rare en beeldskone boom.

Dit is die maand Oktober en die Jakarandastad is oudergewoonte weer oortrek met die jakarandaboom se pers kombers. Min weet egter dat hierdie pragtige boom ’n baie raar suster, die wit jakarandaboom, het wat mense betower met haar beeldskoonheid.

Die wit jakaranda of ‘wit kersfeesboom,’ soos Australiërs hom gedoop het, lyk soos iets uit ’n sprokie en kan, as jy mooi soek, gevind word in Wonderboom en Groenkloof.

Volgens Jason Sampson, kurator van die Manie van der Schyff Botaniese tuin by die Universiteit van Pretoria is die wit jakarandaboom ’n baie raar mutasie van die oorspronklike pers eweknie.

“Die pers blomme van die jakaranda is die natuurlike kleur van die boomspesie en 99.9999% van saailinge van hierdie boom sal pers blomme blom dra. Dit verg baie moeite en die regte omstandighede vir die wit jakarandaboom om voort te plant, en daarom is die boom baie raar en noemenswaardig.”

Hy het ook vertel dat die wit blomme die resultaat is van ’n mutasie, of ’n verandering in die genetiese struktuur van die organisme wat veroorsaak dat daar geen pigment in sy blomme geproduseer word nie.

Die wit jakaranda kan as ’n steriele boom gesien kan word omdat dit nie van saailing af gekweek kan word nie. Alle wit jakarandas word gekloon vanuit die oorspronklike wit jakaranda wat vanaf Suid-Amerika gekom het en na lande met die geskikte klimaat regoor die wêreld versprei is.

Sampson het vertel dat die wit jakaranda net by ’n handjievol kwekerye beskikbaar is. Hy het vertel dat tussen die meer as 70 000 pers jakarandas in Pretoria daar min wittes is. Hulle kan van tyd tot tyd gesien word in private tuine in sekere woonbuurtes in Pretoria.

Rekord het van hierdie pragtige bome gevind in Herbert Bakerstraat in Groenkloof en Tecomastraat in Wonderboom.

Celeste Legrange van Wonderboom woon teenoor ’n wit jakarandaboom en het vertel dat die boom sprokiesmooi is.

“Elke oggend kyk ek deur my venster en lyk dit asof dit gesneeu het. Daar lê wit jakarandablomme soos ’n witkombers oor die grond en lyk net soos sneeu.”

Sy het vertel dat sy en haar gesin altyd eers hulle koppe draai na die majestieuse boom met sy wit kroon voordat hulle met hul daaglikse roetines kan begin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button