Oudste lewende Springbok rugbyspeler sterf op 96
Piet Malan, wat sedert 2005 reeds die oudste lewende Springbok rugbyspeler was, is Sondagoggend in Roodepoort oorlede nadat hy sy stryd teen kanker verloor het.
Die oudste lewende Springbok rugbyspeler, Piet Malan, is Sondagoggend in die Wilgeheuwel-hospitaal in Roodepoort oorlede.
Malan het op 13 Februarie vanjaar 96 jaar oud geword en hy was reeds sedert 2005 die oudste lewende Springbok rugbyspeler. Hy is onlangs met kanker gediagnoseer.
Hoewel hy tussen 1945 en 1951 ’n gevestigde speler op flank vir die destydse Transvaal was en in 33 wedstryde vir dié provinsie uitgedraf het, het Malan in sy loopbaan net in een toets vir die Springbokke gespeel. Dit was die vierde toets teen die All Blacks wat in 1949 in Suid-Afrika getoer het. Malan se flankmaat, Basil Kenyon, was dié dag kaptein, nadat Felix du Plessis (pa van die latere Springbok kaptein, Morné) die Bokke in die eerste drie toetse gelei het. Die Springbokke het daardie reeks van 1949 met 4-0 gewen.
Nog ’n besondere feit oor Malan se eerste en enigste toets is dat dit op ’n krieketveld gespeel is. Die toets is beslis op St George’s Park in Port Elizabeth, waar daar tussen 1891 en 1955 tien toetse deur die Springbokke gespeel is voordat die bekende Boet Erasmus stadion later in dié stad gebruik geneem is.
Malan het in 1950 ook vir die Transvaal span uitgedraf wat daardie jaar die Curriebeker gewen het deur die WP in die eindstryd met 22-11 te klop.
Pieter Malan is in Parys langs die Vaalrivier gebore, waar hy ook op laerskool was. Daarna is hy na Potchefstroom, waar hy aan die Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer het. Hy het ook op Potchefstroom gestudeer, waarna hy jare lank by verskeie skole in Johannesburg skoolgehou het.
Hy was nie net ’n geliefde wiskunde-onderwyser nie, maar ook een van die pioniers om skolerugby uit te bou. Dis algemeen bekend dat Malan die idee van ’n nasionale skole-toernooi eerste bepleit het en dat die latere president van die Suid-Afrikaanse rugby-unie, dr. Danie Craven, na aanleiding van Malan se voorstelle later die konsep van die Cravenweek in 1964 gevestig het.
Na sy loopbaan as onderwyser was Malan die eerste direkteur van sport by die Pukke. Onder sy leiding is die bekende Fanie du Toit sportterrein, waar die Pukke se sportburo deesdae gesetel is, gevestig.
Malan was baie trots daarop dat sy kleinseun, Ernst Joubert, dekades ná hom ook vir Transvaal (deesdae die Goue Leeus/Lions) uitgedraf het en nét soos sy oupa ook ’n losvoorspeler was. Hy het boonop, net soos sy oupa, die Leeus op die veld gelei. Joubert het sy loopbaan as professionele rugbyspeler onlangs by die Engelse klub, Saracens, afgesluit.
Hy en sy bekende vrou, Minki (van der Westhuizen) het hulle enkele maande gelede in Kaapstad gevestig.
Na Malan se dood is Cecil Moss (90), gewese vleuel van Natal, nou die oudste lewende Springbok.
Malan word oorleef deur sy vrou, Hansie (95), vier dogters, elf kleinkinders en elf agterkleinkinders.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
