Eersterust-gesin treur na moord
Die hartseer familie van die vermoorde Molly Fisher praat met Rekord oor hul verdriet en skok ná die moord.
Corlia Kruger
Die vermoorde Molly Fisher van Eersterust het ‘n hart van goud gehad en was altyd betrokke by die gemeenskap, sê haar dogter Roché Monique September.
“Sy was altyd betrokke by die gemeenskap en het tyd vir haar medemens gemaak. Ons gaan haar baie mis,” sê September.
Molly is Sondagoggend in haar huis in James Dewrance Crescent dood aangetref. Gesinslede het haar skynbaar in die gang van die huis gekry.
Die polisie kon nog nie die oorsaak van haar dood bevestig nie, maar ‘n betroubare bron sê dat Molly verwurg is.
‘n Moord en roof word ondersoek nadat ontdek is dat verskeie elektriese toestelle en Molly se voertuig (Volkswagen Polo, registrasienommer: DD27KM GP) vermis word.
Die aanduidings is dat Molly die hek en deur oopgemaak het vir wie ookal die huis betree het.
“My ma sou nie sommer die deur vir enigiemand oopmaak nie,” sê September.
“Sy moes hulle geken het. Dis seker hoekom hulle haar doodgemaak het… omdat sy hul sou kon identifiseer.”
Eersterust-inwoners en vriende van die Fisher-gesin was in skok oor Molly se dood.
Sy het haar eie spyseniering-onderneming en ‘n dagsorgsentrum bedryf.
Molly laat ses susters, vier broers, haar man, twee kinders en twee kleinkinders agter.
Die roudiens word Saterdag by die NG gemeente Eersterust gehou.
Lees ook:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
