Hondekinders vergiftig in Rietfontein
Twee hondekinders is vergiftig in Rietfontein.
Twee troeteldiere is vergiftig laasweek in 21ste Laan, na ’n beweerde poging tot inbraak.
Nico en Gerda Fabricius, woonagtig in Rietfontein, het Woensdagoggend 29 Julie twee van hul geliefde hondekinders dood aangetref in hul erf.
“Ek vermoed hulle wou die ou Sentra steel wat onder die afdak staan,” het Nico vertel. Hy meen dat dit egter moeilik sou wees vir die verdagte(s) om oor die pallisade heining te kom of om die hek oop te maak.
“Hulle sal ook nie sonder ‘n groot geraas by ons huis in kan kom nie. Ons het diefwering binne en buite die huis.”
Die Fabricius gesin treur oor hul honde, wat hul voel onnodig vergiftig is. Hul oudste hond, ‘n pragtige wolfhond en Husky-kruising genaamd Beauty, is al 10 jaar lank deel van die familie.
“Ons het haar nog in die Oos-Kaap opgetel… sy was byna dood en sonder hare. Ons het haar teruggebring huis toe waar sy toe deel geword het van ons gesin,” het Gerda vertel.
“Sy was ‘n ma en het al die ander honde se kleintjies gevat om groot te maak.”
Die gesin se een-jarige Yorkshire Terriër, Madam, is ook vergiftig, na sy glo in die vroeë oggendure uitgehardloop het toe Beauty buite in die erf begin blaf het.
Nico vertel van ‘n soortgelyke voorval vier jaar gelede, toe hulle huis ook die teiken was van hondevergiftiger(s). “Beauty was toe ook vergiftig. Gelukkig was dit gedurende die dag en ek kon haar betyds red. Ek het haar toe gemaak ‘n liter melk drink sodat sy die gif moes opgooi en haar vinnig by ‘n veearts gekry.”
Inwoners word gewaarsku teen die dodelike ‘Two-step’ (aldicarb) gif wat meestal gebruik word om diere te vergiftig. Dit word versteek in vleis en net ‘n knippie van hierdie gif is genoeg om ‘n groot hond dood te maak.
Lees ook:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
