CrimeLocal newsNews

SA man vermoor in Mali was ’n brawe brandweerman

Die Suid-Afrikaanse man wat Vrydag in Mali in ’n terreuraanval doodgeskiet is, was ’n brawe brandeerman by die Tshwane Noodienste.

“Hy was ‘n mens se mens. Sy familie het eerste gekom. As iemand in die moeilikheid was, sou hy sy laaste bietjie uitgetrek het om daardie persoon te help.”

So beskryf Cobus Smal sy oorlede swaer Roelof Jacobus ‘Jaco’ Janse van Rensburg.

Janse van Rensburg (38), ‘n voormalige brandweerman by die Tshwane-nooddienste, wat in Booysens gewoon het, is Vrydag tydens ‘n terreuraanval op sy hotel in Mali, doodgeskiet. Hy was in die land op ‘n vredesmissie saam met die Verenigde Nasies. Twee ander Suid-Afrikaners was ook in die hotel saam met hom. Albei het die aanval oorleef.

“Jaco het ons Vrydagoggend laat weet die hotel word aangeval. Hulle (hotelgaste) het toe in hul kamers gebly. Vrydagaand 20:10 was die laaste keer wat ons met Jaco gepraat het op WhatsApp. Ons het toe begin met die departement van buitelandse betrekkinge en samewerking, oftewel (Dirco) praat en ons het sy werkgewer in die hande gekry. Saterdagoggend 06:00 is die twee ander Suid-Afrikaners wat in die hotel was uit. Die polisie het teruggegaan om Jaco te kry, maar hy is toe reeds doodgeskiet,” het Smal gesê.

Janse van Rensburg en ander hotelgaste het in die badkamers in hul kamers gewag terwyl die aanval plaasgevind het. Gewapende militante het die hotel aangeval en gaste wild begin skiet. Ongeveer 12 mense is dood tydens die aanval. Janse van Rensburg se badkamerdeur is oopgeskiet.

Dirco se woordvoerder Nelson Kgwete het homself teen Janse van Rensburg se moord uitgespreek en het gesê die departement sal die familie in die moeilike tyd bystaan.

Volgens Smal gaan Gift of the Givers help om sy swaer se lyk terug in Suid-Afrika te kry. Smal sê hy hoop dat dit binne drie dae sal gebeur.

“My suster (Jaco se vrou Carina), is stukkend. Haar hart is baie seer. Ek dink nie die tragedie het nog by sy kinders ingesink nie,” het Smal gesê.

Janse van Rensburg het vir meer as 15 jaar by die Tshwane-nooddienste as ‘n brandweerman gewerk. In 2012 het hy en Smal saam in Sierra Leone gewerk. Kort daarna is hy Mali toe.

“Hy was deel van ’n reddingspan wat op helikopters gewerk het en die VN gehelp het. Hulle het saam met die Russe, wat die vlieëniers was, gewerk. As daar enigiets was, het hulle inbeweeg en iemand gaan uithaal,” het Smal gesê

Tshwane-nooddienste se woordvoerder, Johan Pieterse sê die hele organisasie is geskok deur Janse van Rensburg se dood. “Alhoewel hy nie meer saam met ons gewerk het nie, het hy nie opgehou om ‘n brandweerman te wees nie.”

“Elke keer as hy teruggekom het van oorsee af het hy vir ons wat nog by die nooddienste is kom kuier. Hy was ‘n ongelooflike goeie, hardwerkende man en van die beste en braafste brandweermanne. Jy kon hom in enige noodsituasie in stuur. Ons stuur ons diepste simpatie aan sy familie in hierdie moeilike tyd,” het Pieterse gesê.

Reëlings vir Janse van Rensburg se begrafnis sal bekendgemaak word sodra sy lyk terug in Suid-Afrika is.

Hy laat sy vrou en vier kinders, die jongste ‘n 13-jarige tweeling, agter.

Lees ook:

Pretoria man killed in Mali hostage drama

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button