CrimeLocal newsNewsUpdate

Laerskoolseun herstel ná mesaanval

Laerskoolseun van die Noorde herstel nadat hy met 'n mes in die rug gesteek is.

’n Laerskoolseun van Hesteapark is Maandag met ‘n mes in die rug gesteek  nadat hy deur twee fietsdiewe aangeval is.

Frans van Zyl (13) is na die Akasia-hospitaal gehaas en is na behandeling Dinsdag ontslaan.

Frans se ma Cecilia vertel dat hy op die hoek van John- en Terrierstraat aangeval is, skaars ’n blok van hul huis in Hesteapark.

“Dit was so rondom 17:00 toe hy gesê het dat hy ’n bietjie met sy fiets om die blok wil ry,” sê Cecilia.

“Dis nie ongewoon om fietsryers en drawwers laatmiddag in die omgewing te gewaar nie. Ons gaan stap of ry gereeld fiets hier om die blok.”

Frans is voorgekeer deur die twee mans wat skynbaar op die hoek vir hom gewag het.

Een het hom aan sy hemp gegryp om hom van sy fiets af te ruk. Frans het probeer vlug en geskree dat hulle net die fiets moet vat.

“Ek het iets hard teen my rug gevoel slaan en toe steek hy my met die mes,” sê Frans.

Frans, nog in skok, het huistoe gehardloop.

“Hy het sommer net so oor die tuinmuur gespring,” vertel Cecilia.

“Ek het hom gehoor huil en my eerste gedagte was dat hy dalk miskien geval het.”

Met ’n bebloede en geskeurde hemp het Frans geskree: “Mamma, hulle het my gesteek!”

Cecilia het dadelik haar man Willem geroep en hulle het vinnig gespring om hul seun gou by die hospitaal te kry.

Frans moes ses steke kry nadat die wond, laag op sy rug, skoongemaak is.

Hy is oornag gehou by die hospitaal en is Dinsdag ontslaan.

“Die skanderings het gewys dat daar darem nie skade aan die spierweefsels of sy organe is nie,” sê Cecilia.

“Met die dat hy weggeruk het moes die mes gegly het. Ons is so gelukkig daaroor, want as dit enigsins dieper was kon hy baie seerder gekry het of erger – hy kon verlam gewees het.”

Na Frans se aanval is die GPF en Sektorpolisie ontbied na die toneel. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Volgens Frans se beskrywing is een vandie mans fris gebou met ’n ‘kaalkop’ en die ander lank en skraal met ’n dos hare wat lyk asof dit gevleg is.

Cecilia sê sy wil mense en ouers in die omgewing waarsku teen gevare in strate en naby hul huise.

“Daar is vrouens hier wat alleen in die middae draf. Baie jong kinders ry ook  laat hier rond met hulle fietse.”

Cecilia meen ouers moet nou besef dat kinders liefs nie alleen op straat moet wees nie.

Steke in skoolseun se rug nadat hy met mes gesteek is. Foto: Corlia Kruger.
Steke in skoolseun se rug nadat hy met mes gesteek is. Foto: Corlia Kruger.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos naeditorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button