Bloulig-bende vasgetrek
Die 'bloulig-bende' wat hulself voordoen as polisie, is onlangs vasgetrek.
Corlia Kruger
Vier lede van die berugte ‘bloulig-bende’ is onlangs in Johannesburg vasgetrek.
Thembisa polisie-bevelvoerder Generaal Nick Sithole het bevestig dat vier mans in hegtenis geneem en in aanhouding is.
Die ‘bloulig-bende’ doen hulself na bewering voor as polisiemanne deur met ’n blou lig op hul voertuig se dak motoriste van die pad af te trek en dan voertuie te kaap. Hulle was al in verskeie dele van Pretoria aktief.
In September verlede jaar is drie vermeende bende-lede in Midrand aangekeer toe hulle veral vragmotors gekaap het.
’n Hewige skietery tussen polisie en vyf bende-lede het die September-inhegtenisname voorafgegaan. Twee van die misdadigers is doodgeskiet.
Een van die drie aangekeerdes is later uitgeken as ’n Olifantsfontein-polisieman en deel van die sigbare polisie-eenheid in Tembisa.
Drie van die rowers het polisie-uniforms gedra en hulle het met ’n voertuig rondgery wat soos ’n polisievoertuig gelyk het. Vuurwapens, ’n polisieradio en gereedskap om voertuie mee te steel en sake-ondernemings te beroof, is in hul voertuig gekry.
Sithole sê dit is nog onbekend of die onlangse inhegtenisname verband hou met die aankeer van bende-lede in September.
“Daar is geen polisie-uniforms in besit van die onlangse verdagtes gevind nie – slegs die blou ligte,” sê Sithole.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
