CrimeLocal newsNews

Petisie teen “Molly-moordenaar”‘ borgtog

Eersterust-inwoners het 2 000 stemme gewerf om borg te weier aan Molly Fisher se verdagte moordenaar.

Corlia Kruger

Eersterust se mense het meer as 2 000 stemme gekry om moordverdagte Abram Tsukudu agter tralies te hou.

Dit is die aantal inwoners, familie en vriende van die vermoorde Molly Fisher wat tot dusver ‘n petisie onderteken het teen die toestaan van borg aan Tsukudu.

Fisher (49) is op 2 Augustus dood in haar huis in Eersterust aangetref nadat sy klaarblyklik tydens ‘n rooftog vermoor is.

Die 27-jarige Tsukudu is verlede Woensdag in Soshanguve aangekeer nadat die polisie beslag gelê het op gesteelde items wat uit Fisher se huis in James Dewrance Crescent verdwyn het.

Hy het reeds in Pretoria se landdroshof verskyn in verband met die misdaad en sal Vrydag terug in die hof wees.

Lede van die Eersterust gemeenskap het verlede Donderdag saam met Fisher se familie ‘n optog na die polisiekantoor gehou om te eis dat Tsukudu borgtog geweier word.

Die petisie is versprei vir ondertekening deur bekommerde inwoners.

“Ons wil ten minste 5 000 stemme kry,” het een van hulle gesê.

Fisher se broer, George sê dis tyd vir die samelewing om op te tree.

“Wat my betref, sal ons net geregtigheid kry as die doodstraf terugkom.” Ander familie-lede meen die moordenaar moet niks minder nie as lewenslange tronkstraf opgelê word.

Fisher se lyk is op 2 Augustus in haar huis ontdek nadat sy beroof is. Sy is verwurg en in die gang van haar huis aangetref.

Daar was geen teken van ‘n inbraak nie, wat dui daarop dat Fisher die deur vir haar moordenaar oopgemaak het.

Haar dogter, Roché Monique September sê: “My ma sou nie sommer die deur vir enigiemand oopmaak nie,”

Die familie sê Fisher was hul steunpilaar wat oorgeloop het van liefde.

Demokratiese Alliansie raadslid Ingle Singh sê Fisher was baie betrokke by die gemeenskap. “Sy het ‘n dagsorgsentrum by haar huis bedryf en was ook betrokke by spyseniering vir die gemeenskap.”

Fisher word beskryf as ‘n vrou wat altyd tyd ingeruim het vir haar medemens en sy is ook op Vrouedag vereer vir haar bydrae tot die gemeenskap.

‘n Roudiens is Saterdag vir by die NG gemeente Eersterust gehou. Sy laat vier broers, ses susters, ‘n seun en dogter, asook twee kleinkinders agter.

Lees ook: 

Petisie teen borg na Molly se moord

Molly se moordenaar gevind

Moordverdagte verskyn in hof

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button