Local newsNewsSchools

Dr. Pierre Edwards – heelagter op die rugbybveld, maar heel voor as onderwys legende

Hy was ’n internasionale rugbyspeler en Bloubul held en hy is ook ’n historikus met twee doktorsgrade in die geskiedenis, maar dr. Pierre Edwards sal waarskynlik deur die duisende seuns wat oor 40 jaar sy pad gekruis het in die gange van die beroemde Afrikaans Hoër Seunskool eerder onthou word as een van ons land se ware onderwys-legendes.

Iemand het eendag gesê dat elke belangrike, geleerde of beroemde persoon in die wêreld eenmaal in sy lewe in ’n graad-een klassie gesit het, waar hy moes leer om te lees, skryf en reken. Hierdie perspektief laat ’n mens weer besef wat die waarde en invloed van die onderwyser in ons samelewing is en hoe geen moderne suksesvolle samelewing sonder die onderwys-beroep kan bestaan nie. Die bekende dr. Pierre Edwards is nie net een van Pretoria se bekendste oud onderwysers nie, maar hy is ook bekend vir sy passie vir dié beroep. Die waarde van goeie kwaliteit onderwys is ’n saak wat hom na aan die hart lê en waaroor hy ure kan gesels, want in ’n land soos Suid-Afrika is dit ook onderliggend aan die sosio-ekonomiese werklikhede van die samelewing. “Die mense van Pretoria besef nie aldag die voorreg wat ons in die Afrikaanse gemeenskap nog het om gehalte onderwys beskikbaar te hê weens die groot aantal wêreldklas skole in ons stad nie,” was Edwards se antwoord toe hy oor die huidige stand van onderwys in ons land gepols is. Volgens Edwards sou sy raad wees aan elkeen wat graag iets vir sy land en sy mense wil doen om op een of ander wyse betrokke te raak by die saak, sodat hierdie voorreg vir die nageslag behoue kan bly. “Die toekoms van onderwys in Suid-Afrika gaan bepaal word deur die gehalte van die onderwysers,” is sy mening.

Dr. Pierre Edwards in sy kantoor by die Afrikaans Hoër Seunskool Pretoria, waar hy self skoolgegaan het en waaraan sy 40 jaar verbonde was as onderwyser, adjunkhoof en later hoof vir 27 jaar.
Foto: Koos Venter

Die meerderheid Pretorianers ken Edwards òf as die oud Bloubul en Springbok heelagter, wat 89 keer in die Ligblou trui van Noord-Transvaal uitgedraf het en twee toetse vir die Springbokke gespeel het, òf hulle ken hom as die legendariese hoof van een van die stad – en die land – se beroemdste skole, Afrikaans Hoër Seunskool Pretoria. Of sommer net Affies. Dié nederige legende is ’n Pretorianer in murg en been. Hoewel hy in die Suidkaap gebore is, het sy ouers kort daarna na Pretoria verhuis. Hier was hy op Laerskool Pretoria-Oos en as kaalvoetseuntjie ook ’n  baljoggie op Loftus Versfeld. Daarna Affies as hoërskoolseun. Toe Tukkies as student en later ook junior lektor. Uiteindelik ook byna 40 jaar as onderwyser, adjunkhoof en hoof by Affies. Maar hoewel Affies en Edwards albei gewoonlik vir hul prestasies op die sportveld gereken word, steek daar baie meer in dié lenige man wat die laaste 27 jaar van sy loopbaan as hoof van Affies dié spogskool se onderwysers en leerlinge moes lei deur soms baie moeilike tye. Danksy sy bekwame leiding steek daar ook baie meer in Affies se sukses as net dit wat ons op die sportveld sien. Dis ook ’n puik kultuurskool met een van die beste kore in die land, terwyl die streng dissipline wat danksy Edwards en sy kollegas gehandhaaf is, beslis ook ’n rol speel om dié skool te laat uitstaan bo die res.

Edwards se eie betrokkenheid by die skool se kultuur is welbekend. So het hy jare lank geskiedenistoere gereël, waarop hy leerlinge vergesel het om byvoorbeeld slagvelde van die Eerste- en Tweede Vryheidsoorloë te besoek. Geskiedenis speel dus ’n reuse rol in Edwards se lewe en hy het onlangs sy tweede doktorsgraad in dié vakgebied behaal. Sy nuutste proefskrif heet “Groot Brittanje se aanspraak op die suidelike gedeelte van Delagoabaai, 1822-1875.” Die geskiedenis van Delagoabaai in die hedendaagse Mosambiek fasineer Edwards trouens tot só ’n mate dat beide sy proefskrifte vir sy eerste doktorsgraad én dié van sy meestersgraad ook aspekte daarvan gedek het. “Min mense besef dat daar ’n stryd om beheer van daardie hawe was tussen Portugal en Engeland. Feit van die saak is, as Engeland daarin kon slaag om dit te beheer, het ons eie geskiedenis hier in Suid-Afrika beslis ook heel anders gelyk,” som hy dié interessante onderwerp op. Hoewel hy reeds sedert 2019 ’n pensionaris is, is Edwards en ’n paar kollegas tans besig met die laaste afronding van nog ’n historiese werk en ’n lank gekoesterde ideaal. Dít is die neerpenning van Affies se geskiedenis van die afgelope 100 jaar. Die Covid-krisis het hul werk bietjie vertraag, aangesien Affies reeds in 2020 sy eeufees moes vier, maar Edwards en sy mede samestellers van Affies se gedenkboek hoop om dit voor die einde van vanjaar bekend te stel.  

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button