Marna Jordaan bou haar eie monument deur haar roeping passievol uit te leef
Terwyl die Covid-krisis ook Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) se eeufees vieringe effens gedemp en vertraag het, het die skool egter voortgegaan en onlangs hul gedenkalbum vrygestel, wat weer die kollig gooi op die merkwaardige geskiedenis van die skool en die vyf sterk vroue wat die leisels oor die afgelope 100 jaar daar vasgevat het.
Tydens ’n onlangse spogfunksie in ’n markiestent op die terrein van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) is die skool se eeufees gedenkblad bekendgestel.
Behalwe vir die merkwaardige geskiedenis van dié besondere skool, het een feit oor die afgelope eeu van AHMP se bestaan baie onkundige gaste verbaas. Dít is die feit dat die skool oor die afgelope 102 jaar slegs vyf hoofde gehad het.
’n Vinnige som laat mens besef dat elk van die dames wat AHMP oor die afgelope eeu gelei het, ’n besondere lang termyn in hul poste moes dien om so min hoofde oor 100 jaar in te pas. So byvoorbeeld is die huidige hoof, Marna Jordaan, reeds in haar vyftiende jaar aan die stuur van sake by die enigste Afrikaanse meisieskool noord van die Vaalrivier.
Na aanleiding van die verskyning van AHMP se eeufeesbundel het Rekord met Jordaan gesels oor die verlede, hede en toekoms van haar skool en die verloop van haar eie merkwaardige loopbaan in die onderwys.
Die onderwys-bloed loop besonder dik in haar are, met albei haar ouers wat vir dekades lank in dié beroep gestaan het. Dus het die jong Marna Jordaan eintlik nie ’n ander keuse gehad nie – sy móés ook die edel beroep volg waar sy elke dag ’n invloed op jong kinders se lewe kon hê en hulle kon help vorm vir die grootmenslewe.
Sy is gebore op die destydse Transvaalse Hoëveld, waar sy haar skoolloopbaan aan ’n plaasskool op Standerton begin het. Daarna is sy na Hoërskool Standerton en toe haar pa ’n pos as hoof van Hoërskool Rustenburg aanvaar, het sy haar laaste twee skooljare daar voltooi.
Jordaan is na skool Pretoria toe om by Tukkies in die onderwys te studeer. Haar hoofvakke was Afrikaans, Geskiedenis en Wiskunde.
Haar eerste pos as jong onderwyser was by die Hoërskool Overkruin in die noorde van Pretoria as geskiedenis onderwyseres. Na ses jaar by Overkruin is sy verplaas na Hoërskool Hoogenhout in Bethal, wéér as geskiedenis onderwyseres. Toe volg Hoërskool Bastion in Roodepoort, waar sy op ’n baie jong ouderdom die departementshoof vir Geesteswetenskappe word.
In April 1992 word Jordaan in baie ontstuimige tye vir die land en ook vir die onderwys in Suid-Afrika aangestel as adjunkhoof van die destydse Helpmekaar Meisieskool in Johannesburg. Hier styg sy gou uit met haar sterk leierseienskappe en nugter oordeelsvermoë. Toe die ouers van die meeste meisies by Helpmekaar Meisiesskool besluit om by die nuwe gemengde (seuns en meisies) Helpmekaar Kollege aan te sluit, moes sy as waarnemende hoof red wat te redde is.
Nadat sy permanent aangestel is as hoof van Helpmekaar Meisies, word dié skool onder haar leiding getransformeer en uitgebou as dubbelmedium Model-C skool onder die nuwe naam Rand Meises/Rand Girls High School. Sy bou die skool weer op van skaars 300 leerlinge en toe sy Rand Girls teen die einde van 2007 verlaat was dit ’n finansieel gesonde spogskool met sowat 900 leerlinge, ’n eie etos, nuwe uniforms vir die leerlinge en ’n goedversorgde terrein.
Só gewild het dié skool geword dat Rand Girls in haar laaste jaar daar meer as 1000 aansoeke gehad het vir die skaars 200 beskikbare geleenthede om nuwe graad agt leerlinge in te neem.
In 2008 word Jordaan slegs die vyfde hoof van AHMP – ’n nuwe uitdaging in ’n tegnologies veranderende era vir die onderwys.
Wéér wys sy haar vermoë om buite die spreekwoordelike ‘boks’ te kan dink en haar vreesloosheid om uitdagings op alle vlakke aan te pak. AHMP groei in getalle met meer as 300 onder haar leiding, terwyl beginsels soos akademie as eerste prioriteit verstewig word, terwyl sy sterk steun om massa deelname in kultuur- en sportaktiwiteite aan te moedig.
Hoewel enkelgeslag skole in Afrikaans skaars is in vergelyking met Engels, glo Jordaan dat dié konsep voordele het, soos dat die handhawing van dissipline en die behoud van strukture makliker is.
Sy erken dat die koms van Covid groot uitdagings gebring het vir onderwys oor die algemeen.
“Hoewel ons daarin geslaag het om die meeste probleme te oorbrug, het dié krisis net weer bevestig hoe belangrik aspekte soos die verhouding – en spesifiek die kontak – tussen leerling en onderwyser is, terwyl dit reuse uitdagings gebring het ten opdigte van almal se roetine,” som sy dit op.
Sy glo ook daar is ’n nuwe honger vir sosialisering, terwyl baie dinge wat in die verlede as vanselfsprekend aanvaar is, nou meer waardeer word.
Vir Marna Jordaan bly daar enkele jare oor voor sy die laaste keer haar kantoordeur sal toetrek by AHMP. Hoewel sy nie twee volle dekades as hoof sal haal soos sommige van haar voorgangers nie, glo sy dat elke hoof van dié skool tot vandag gedoen het wat nodig was in haar era om AHMP te bou tot dit wat vandag bestaan.
“Die volgende hoof sal haar eie uitdagings hê, maar as die beginsels en die etos onaangetas bly, glo ek dat die sukses ook sal aanhou groei saam met die skool,” het sy afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
