Local newsNews

Broodboom Trust maak seker rare plante is veilig in monument se skaduwee

Toeriste en besoekers aan die Voortrekkermonument het nou danksy broodboomliefhebbers en 'n gesprek by 'n braai ’n netjiese botaniese tuin vir broodbome om te besoek.

Ongeveer 200 volwasse broodbome en 300 saailinge is binne drie jaar by die Voortrekkermonument aangeplant, te danke aan die Broodboom Trust in Pretoria.

Voorsitter Tilania du Preez vertel die Trust se skenkingsprojek het begin met twee broodboomliefhebbers van Pretoria wat na ’n aftree-oord verhuis het.

Hulle het rare broodbome aan die Trust geskenk.

Verskeie skenkings het daarna gevolg van ontwikkelaars wat ouer huise opkoop vir groot ontwikkelings en mense wat emigreer of verhuis.

“Die skenkers wat hulle broodbome skenk, is spesiale mense, aangesien dit partykeer ’n emosionele skenking is, met baie herinneringe wat daaraan gekoppel is, soos geboortes, sterftes, eerste huis koop en meer,” sê Du Preez.

“Die Trust hanteer die verkryging van besit- sowel as vervoerpermitte.”

Die Trust het ’n nie-winsgewende organisasie in die lewe geroep wat met fondse van skenkers sulke permitte en ander werk rondom broodbome kan doen.

Dit het sedert 2020 ’n samewerkingsooreenkoms met die Voortrekkermonument aangegaan.

Voor: In September 2021 is die terrein by die Voortrekkermonument se broodbome nie omsigtig na omgesien nie.
Daar is besluit om ’n broodboom botaniese tuin te skep aan die westekant van die monument.

“Broodbome is ’n erg-bedreigde flora-spesie in Suid-Afrika en word links en regs uit die natuur gestroop. By die monument is daar goeie veiligheid in plek om hierdie erfenis van ons veilig in bewaring te hou,” benadruk Du Preez.

In Suid-Afrika is daar volgens Du Preez 56 verskillende spesiesoorte van broodbome.

Van haar gunstelinge is die Suurbergbroodbome oor hul blouerige blaarkleur en omdat die plant opsigself hoog groei.

“Ons broodboom-erfenis is ernstig geplunder oor die jare, ook vanuit munisipale en nasionale botaniese tuine sowel as reservate.

“Die broodboomstropers sal nie huiwer om helikopters hiervoor in te span nie. Ons wou toeriste aan die monument nou ook die voorreg gee om van hierdie oorblywende skatte te kan sien,” verduidelik Du Preez.

In Julie 2023 nadat die Broodboom Trust ingespring het om saam met die Voortrekkermonument se bestuur ‘n Broodboom botaniese tuin te skep, het die nasionale erfenisboom meer tot sy reg op die monument se terrein gekom.
Die projek is egter nie oornag afgehandel nie.

Eerstens moes die terrein skoongemaak word om dit meer toeganklik te maak vir besoekers en ook om die broodbome en ander plante te kon aanplant.

Die broodboom botaniese tuin se sukses kan toegeskryf word aan samewerking.

Sonja Creighton van Groblersdal het ’n groot trok kompos gestuur wat ’n groot verskil aan die harde grond gemaak het.

’n Skenking vir dekgras is ook gemaak wat die grond meer vrugbaar en vogtig maak. Die erdwurms en termiete help ook om ’n ekoklimaat te skep.

Martin Slabbert en Jurie van der Walt werk as vrywilligers elke Woensdag in die tuin en maak seker dis netjies en word onderhou.

Dié twee se vrouens het hulle oortuig om die werk te doen nadat hulle ’n braai saam met Du Preez gehad het.

“Gelukkig oorlewe die broodboomspesie nou al 64 miljoen jaar sonder sprinkelbesproeiing in die natuur. Dink hoe goed gaan hulle by die Monument vaar,” sê Du Preez.

Suid-Afrika is ’n brandpunt van broodboomdiversiteit met 38 verskillende spesies waarvan 29 net in Suid-Afrika gevind word.

Broodbome groei vry in die veld sowel as in die broodboom botaniese tuin by die Voortrekkermonument danksy die Broodboom Trust.
Drie spesies is reeds uitgesterf in die natuur terwyl ander ernstig bedreig is.

Bewaringskundiges het onlangs bevind dat net in Pretoria alleen is meer as 36 000 huishoudings met broodbome.

Du Preez wys daarop dat talle van die broodbome wat nou na 40 of so jare uit Pretoria-tuine hul weg na die monument se botaniese broodboomtuin gevind het, die produkte van ’n veiling van sade is wat destyds aangebied is. Die Trust beoog ook om in die toekoms so ’n veiling aan te bied.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument, is trots op die ontwikkeling.

“Hier aan die westekant op Monumentkoppie, waar die Broodboom Trust die tuine versorg, staan gedenkmure opgerig vir helde wat die hoogste offer gebring het. Elke mooi tuin en elke boom wat geplant word, is soos ’n krans vir hulle,” sê Langner.

Du Preez versoek broodboomeienaars om toe te sien dat hulle elke drie jaar hul besitpermit hernieu om verwarring te voorkom wanneer ’n erf byvoorbeeld verkoop óf bome in ’n boedel bemaak óf ’n omgewingsake-inspekteur ’n besoek bring.

Broodboombesitpermitte word by die provinsiale regering se Department van Omgewingsake verkry.

Rapporteer broodboomdiefstal aan die Nasionale Omgewingsmisdade en -voorvalle blitslyn: 0800 205 005

Vir meer inligting oor die Broodboom Trust, stuur ’n e-pos na cycadtrust@gmail.com.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button