Local newsNews

Nuwe boek werp lig op band tussen Afrikaners en Hongare

Die boek kyk na die ooreenkomste tussen Afrikaners en Hongare en hoe vriendskapsbande tussen die twee groepe tot stand gekom het.

’n Nuwe boek en dokumentêre film is in Pretoria bekend gestel wat op die noue en unieke geskiedkundige band tussen Afrikaners en Hongare wys, asook om die huidige verhouding tussen die twee kultuurgroepe te belig.

In die boek, Boers in Carpathia (Engelse weergawe) en in Verhoudinge tussen Afrikaners en Hongare, 1652–2023 word ook op bande tussen leidende Hongare in Suid-Afrika se geskiedenis en Afrikaners, soos Paul Kruger, gewys.

Dóra Kovendi, adjunkhoof van die Hongaarse Missie in Suid-Afrika, het tydens die bekendstelling die ooreenkomste tussen die Hongaarse vryheidstryd in die 19de eeu en die Anglo-Boereoorlog uitgewys.

“Ons het ’n gedeelde veerkragtigheid as volksgroepe en gaan beide op ’n kruistog vir vryheid van onderdrukking indien nodig,” glo Kovendi.

Kyle McDonald van Centurion en Nelize Barnard van Montana

Sy het ook verwys na waardes tussen die twee groepe wat dieselfde is, soos gasvryheid en respek.

Die skrywer van die boek, Ilze Nieuwoudt, het tydens ’n paneelbespreking in die AfriForumteater gewys op vriendskapsbande tussen die twee groepe.

Hierdie bande bestaan om verskeie redes reeds sedert die jare rondom die stigting van ’n verversingstasie aan die Kaap in die 1600’s.

Hongare het hul reeds in 1660’s in die Wes-Kaap gevestig met die Kallis-familie as pioniers. Dié familie is die voorouers van bekende krieketspeler, Jacques Kallis.

Vir Nieuwoudt is dit veral die twee volksgroepe se ingestelhede rondom anti-imperialisme en vryheid wat uitstaan.

“Ons het ook gedeelde volkshelde. Paul Kruger het ’n groot held van die Hongare geword na sy vestiging in Europa,” vertel Nieuwoudt.

Die Hongaar Albert Wass weer het ’n groot held in Hongarye geword na sy deelname aan die Anglo Boereoorlog.

Daar was selfs ’n versoek uit die 1890’s van ’n Hongaarse gemeenskap vir die vestiging van ’n Hongaarse dorp in die destydse Zuid-Afrikaanse Republiek.

“Ons het meer in gemeen as wat mens sou dink,” sê Nieuwoudt.

Sy het gewys op die maniere wat die twee groepe tans bande smee om veral oor die behoud van kulturele identiteit bymekaar te leer.

Nieuwoudt beeld ook in haar boek uit hoe die Suid-Afrikaanse regering in die 1950’s aangebied het om nagenoeg 1 500 Hongaarse vlugtelinge te help.

As ’n groep is hul in Suid-Afrika gevestig ná die bloedige Hongaarse Rewolusie in 1956.

Daar is ook inligting in die boek oor die Hongaars-Suider-Afrikaanse Vriendskapsvereniging wat in 2021 in die lewe geroep is.

Sy wys ook op die rol van Hongare in Pretoria soos die lewe en werk van nyweraar Alois Hugo Nellmapius in die 1800’s.

Volgens Nieuwoudt se biografie van hierdie bekende geskiedkundige figuur was hy maar 26 jaar oud toe hy as jong siviele ingenieur in 1873 aan boord van die skip Nathan in Suid-Afrika aangekom het.

Hy sou in 1893 op Irene sterf, maar was erken as ’n leidende figuur in die jare rondom die Anglo-Boereoorlog. Vlae het na sy dood halfmas in Pretoria gehang.

Nellmapius het De Eerste Fabrieken in Julie 1883 by Hatherley (oos van Pretoria) geopen en daarna diep spore getrap om die republiek verder ekonomies onafhanklik te maak by wyse van fabrieke met ystersmeltoonde.

Nieuwoudt bespreek ook in die boek hedendaagse betrekkinge sowel as die Hongaarse diaspora in Suid-Afrika.

Die ryke verskeidenheid foto’s van geskiedkundige gebeure en leiers, kaarte uit die verlede en hede sowel as uittreksels uit dokumente soos vredesverdrae is kenmerke van die besonderse navorsingswerk.

“Afrikaners en Hongare se geskiedenisse vertel beide die verhaal van kleiner kultuurgemeenskappe wat deur die eeue heen binne ’n see van andersheid steeds strewe na vryheid, en dié storie is nog lank nie klaar geskryf nie,” meen Nieuwoudt.

Navrae oor die boek kan aan Ilze Nieuwoudt op ilze.nieuwoudt@afriforum.co.za gerig word.

– Kliek hier vir ’n lokprent oor die film oor die boek se inhoud:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button