Local newsNews

Gedenkdiens by Muur van Herinnering nou grootste militêre viering in SA

Geliefdes, vriende en naasbestaandes van Suid-Afrikaanse soldate het hul opofferings in oorlog en konflik gedenk tydens 'n gewyde gedenkdiens by die Voortrekkermonument.

Die jaarlikse Gedenkdiens by die SA Weermag se Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument-erfenisterrein het die grootste militêre viering van sy soort geword.

So het Lawrence Smith, voorsitter van die raad van die Pro Patria-museum by die monument tydens sy verwelkoming van gaste by die diens op 26 Mei aangekondig.

Militêre hooggeplaastes soos generaal-majoor Lloyd Anderson, generaal Johan Jooste en skout-admiraal Robin Higgs, politici soos dr. Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus en burgemeester Cilliers Brink, asook militêre attachés van Ethiopië en Kanada het die diens bygewoon.

Die tweee Malinois-honde, Inga en Wolfie, het kranse gedra na waar dit neergeplaas kon word namens alle diere wat in Suid-Afrikaanse konflikte gesterf het.
Alissa Gibbon op Jasper, Lean Smith op Koning, Henk Maree op Kaviaar en Lee-Ann Hendrickz op Honiball was deel van die berede patrollie wat ‘n krans neergeplaas het namens familie van berede soldate wat afgesterf het tydens konflik.

Geliefdes, familie en vriende het by die amfiteater by die die Muur van Herinnering bymekaargekom waarop die name van 2 539 soldate wat in diens gesterf het, verskyn.

Altesaam 782 soldate wat tydens operasies gesterf het, se name is op die muur met ’n asterisk gemerk.

Smith het die naasbestaandes van die soldate wat in diens gesterf het, as eregaste verwelkom.

Hy sê hy hoop dat so ’n herdenking soos die jaarlikse diens deel kan wees van die genesingsproses van diegene wat steeds sluiting nodig het na oorloë waarin hulle geveg het, asook van geliefdes wat naasbestaandes in ’n oorlog verloor het.

Smith sê daar is dikwels dubbelsinnige gevoelens oor oorloë waarin Suid-Afrikaners geveg het, maar hy glo alle veterane moet vir hul opofferings vereer word.

“Ons bring vandag eer aan alle Suid-Afrikaanse soldate wat oor die jare tot vandag gesterf het. Ons wil ook diegene eer wat nog by ons is, maar die fisiese sowel as emosionele letsels van oorlog dra.”

Drie vliegtuie het die amptelike deel van die program geopen met een van die vliegtuie wat simbolies weggebreek het ter ere van alle onbekende soldate.

Die Bosbok 953, Bosbok 922 en Bosbok 927 is onderskeidelik deur Markus Bagdahn, Krauser Venter en Johan Lok gevlieg.

Duiwe is vrygelaat as teken en simbool van die vrede waarvoor soldate deur die jare geveg het.

Verskeie liedjies, soos “You raise me up” is uitgevoer deur gospelsanger Du Preez Stoltz met violis Lizelle le Roux, trompetspeler Martin Bakkes en doedelsakspeler Walter Kruse, wat gepaste eerbiedige en opheffende musiek vir die seremonie verskaf het.

Die mede-organiseerder van die geleentheid, Johann du Preez, sê die simboliek van die twee minute van stilte wat tydens die seremonie gehou is, is geïnisieer deur die daaglikse afvuur van die middagkanon op Seinheuwel in Kaapstad vir ’n volle jaar van 14 Mei 1918 tot 14 Mei 1919, bekend as die Two Minute Silent Pause of Remembrance.

Lede van 32 Bataljon met sertifikate wat hulle vir hul diens aan die grens ontvang het.

Die eerste minuut was ’n tyd van danksegging vir diegene wat lewend teruggekeer het, die tweede om die gesneuweldes te onthou.

Altesaam 22 lede van 32 Bataljon het na die seremonie gedenksertifikate ontvang van die tesourier van die 32 Bataljon Veterane Vereniging, Martin Venter en Smith.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button