Kinderhuiskinders deel hul oorwinningsverhale
"Ons het ook by die skole waar ons saam leerders was, vir mekaar opgestaan wanneer ons geboelie was." - Jaco Green, oud-kinderhuisinwoner
’n Alumni-groep van die Jakaranda en Louis Botha kinderhuise het op 11 Junie tydens ’n glansryke aand in die Atterbury-teater hul lewensverhale met die gehoor gedeel.
Talle van die alumni het daardie betekenisvolle oomblik geskets toe hulle besef het tot watter mate hul kinderhuisjare tot welslae in hul lewens en loopbane gelei het.
Die alumni-groep het bestaan uit Bennie Ngobeni, Sindy Joubert, Jaco Green, Adrie Jonker, Casandra Genis, Michael Mokoena, Lerato Mokone, Ntando Ntuli, Percy Land, Luzett Bent en Sharon Willis.
Ntuli is vandag ’n rugbyskeidsregter vir die Blou Bulle Rugby-unie. Hy skryf dié sukses toe aan die mate wat hy aangespoor is om reeds op laerskoolvlak in rugby te presteer en afrigting sowel as die nodige klere en toerusting ontvang het. Hy was sedert sy laerskooldae in die kinderhuis.

Hy waardeer veral ook die geleenthede wat aan hom gegun is om toegang tot maatskaplike werkers te kon kry om reeds op ’n jong ouderdom sy emosies rondom sy omstandighede te kon verwerk.
“Ek staan hier as getuie dat mens veel kan regkry met die regte ondersteuning. My moedertaal is Zoeloe maar vandag praat ek vyf tale en dit help my in my beroep,” sê Ntuli.
Hy benadruk dat hy moed en hoop het vir Suid-Afrika wanneer hy dink aan hoe hy sy voete gevind het om vandag ’n loopbaan en sy huislewe suksesvol aan te pak.
“Ons land is in ’n bedenklike toestand. Ons moet dit regkry. Al manier hoe ons dit kan doen, is om nog sulke stories te kan vertel van oorwinning en leierskap in ander se lewens,” sê hy.
“As ek terugluister na stories hoe my kinderhuismaats iets bereik, dan kry ek moed. En ek weet nog sulke verhale gaan vertel kan word want hierdie twee kinderhuise bly steeds die veiligste tuiste vir verlore, mishandelde en kinders wat verlate gelaat word en die basiese lewensvaardighede en lewensmiddele nodig het,” glo Ntuli.
Die een herinnering wat hy saam met hom dra is die samehorigheidsgevoel tussen kinderhuismaats.
“Selfs aan tafel wanneer ons gebid het, het ons hande vasgehou,” vertel Ntuli.
Hy het ’n oproep aan borge en ondersteuners gemaak om voort te gaan met hul ondersteuning.
“Wees die rede hoekom ’n kind geliefd kan voel,” sê Ntuli.
Vir oud-inwoner Jaco Green, ’n assistent-onderwyser by Laerskool Hennopspark, staan die saamstaan van inwoners tydens sy kinderhuisjare uit.
“Ons het ook by die skole waar ons saam leerders was, vir mekaar opgestaan wanneer ons geboelie was,” vertel Green.
Hy verlang terug na die jare toe hy by die kinderhuis fiets gery het, huismoeder Hester se Sondaghoender en die manier wat kamermaats mekaar soggens met ’n kreet wakker gemaak het om die dag aan te pak.
“Die oomblik wat ek besef het ek is ’n oorwinnaar en nie ’n slagoffer van my omstandighede nie, was toe ek besef het dit is nie ’n straf om in die kinderhuis te wees nie. Ek het besef die personeel is nie net daar om ons te versorg nie, maar is ook besig om na ons menswees om te sien,” vertel Green.
Hy is deur ’n mentor geleer om te skubaduik en kon danksy borge talle skuba-duik uitstappies en reise meemaak, selfs so ver as Mosambiek en die Rooi See. Vandag bedryf Green ook sy eie skubaklub in Centurion.
“Ek het besef in die kinderhuis wil mense my sien groei. Ek mag dalk daar wees oor ander mense se onoordeelkundige keuses, maar dit was my keuse wat ek daarvan en van my lewe maak. My kinderhuisjare het my geleer ek kán berge versit,” sê Green.
Die uitvoerende bestuurder van beide kinderhuise, Charlene Grobler, het in haar verwelkoming aan die gehoor (bestaande uit borge en ondersteuners) uitgewys dat die kinderhuise se uitgawes steeds net met meer as 40% deur die owerhede gesubsidieer word.

Van hierdie gelde is ook nog nie uitbetaal deur die Department van Maatskaplike Ontwikkeling van die Gauteng-regering nie, ten spyte van ’n hofbevel wat deur verskeie organisasies sonder winsbejag verkry is.
“Juis daarom word die deurlopende ondersteuning en toewyding van ondersteuners, mentors en borge deur die jare soveel meer waardeer,” benadruk Grobler. “So ’n netwerk is ’n valnet vir ons in sulke moeilike tye.”
Die ambasadeur van die kinderhuise, sanger Leon Gropp, het die gehoor toegesing met sy ode aan die Moot, die Pretoria-area waarin die kinderhuise geleë is.
Die gehoor het heerlik saamgesing aan die liedjie “Moot tot die Dood” en die handteken leer maak wat Mooters gebruik om aan te dui als loop reg in hul lewens.

Die huidige inwoners van die kinderhuise het ook opvoerings gedoen.
Ondersteuners kon ’n geldelike bydrae maak deur ’n sagte diertjie vir ’n aannemingsfooi te borg of sokkies aanskaf, waarvan die ontwerpe deur van die kinderhuise se inwoners gedoen is.
– Kliek hier om ’n video oor die aand se verrigtinge te sien.
ALSO READ: Tierpoort farm attack: Two intruders dead, one arrested
Do you have more information about the story?
Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
