Druk op nywerhede oor luggehalte neem toe
Adjunkminister Bernice Swarts het op 3 Augustus beklemtoon dat ekonomiese groei en skoon lug hand aan hand moet gaan. Sy doen ’n beroep op nywerhede om emissies te verminder, terwyl gemeenskappe beter beskerming, toegang tot inligting en ’n groter rol in luggehaltebesluite kry.
Adjunkminister van Bosbou, Visserye en Omgewing, Bernice Swarts, sê Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling kan nie los gesien word van die gesondheids- en omgewingsimpak wat nywerhede op omliggende gemeenskappe het nie.
Sy het tydens die Secunda Clean Air Community Dialogue op 3 Augustus gesê gemeenskappe wat naby nywerhede woon, behoort nie die grootste las van lugbesoedeling en die gepaardgaande gesondheidsrisiko’s te dra nie.
“Ekonomiese aktiwiteit kan nie van sy impak op mense en die omgewing geskei word nie. Gemeenskappe wat naby nywerhede woon, moet nie ’n buitensporige deel van die omgewings- en gesondheidskoste van ekonomiese ontwikkeling dra nie,” glo Swarts.
Volgens haar is skoon lug noodsaaklik vir openbare gesondheid en langtermyn ekonomiese groei.
“Die gehalte van die lug wat ons inasem raak elke aspek van ons lewe, van die gesondheid van ons kinders en bejaardes tot die produktiwiteit van werkers en die mededingendheid van ons ekonomie.”
Swarts het gesê die regering bly verbind tot die toepassing van Suid-Afrika se luggehaltewetgewing deur beter monitering en sterker wetstoepassing.
Sy het egter beklemtoon dat die grootste verantwoordelikheid by die nywerheidsektor lê.
“Nywerhede beskik oor die hulpbronne, tegnologie en kundigheid om vrylatings aansienlik te verminder. Ons doen daarom ’n beroep op alle maatskappye wat in die Hoëveld-prioriteitsgebied werksaam is om sterker omgewingsleierskap te toon,” het sy gesê.
Volgens Swarts behoort maatskappye nie omgewingsnakoming as bloot nóg ’n regulatoriese vereiste te beskou nie, maar as ’n belegging in hul eie toekoms.
“Beleggings in skoner tegnologie verbeter nie net luggehalte nie, maar verhoog ook doeltreffendheid, verminder afval, beperk risiko’s en versterk Suid-Afrikaanse nywerhede se internasionale mededingendheid.”
Sy het verder gesê die oorgang na skoner tegnologie kan nuwe ekonomiese geleenthede skep in sektore soos hernubare energie en afvalbestuur.
Swarts het beklemtoon dat skoon lug nie ’n struikelblok vir ekonomiese ontwikkeling is nie.
“Dit is een van die grondpilare van volhoubare ekonomiese groei.”
Sy het ook ’n beroep gedoen dat gemeenskappe beter toegang tot luggehalte-inligting moet kry en dat hul ervarings deel moet vorm van besluitneming oor luggehaltebestuur.
“Wanneer mense verstaan wat hulle inasem en ’n stem in die proses het, bou ons vertroue en verbeter ons die gehalte van besluitneming,” het Swarts gesê.
Die kwessie het ook hoog op die agenda gedien tydens die Africa Clean Air Forum wat aan die einde van Julie in Pretoria aangebied is.
Gesondheidskenners het daartydens gewaarsku dat sonder strenger toepassing van luggehaltewetgewing, groter aanspreeklikheid vir nywerhede en vinniger belegging in skoner energie, sal Gauteng en stede soos Pretoria steeds die aansienlike gesondheidskoste van lugbesoedeling in Suid-Afrika dra.
Lugbesoedeling eis na raming jaarliks sowat 42 000 menselewens in Suid-Afrika, waaronder ongeveer 1 300 kinders jonger as vyf jaar. Gauteng dra die swaarste gesondheidslas.
Die jongste navorsing deur die Centre for Research on Energy and Clean Air (CREA) toon dat sowat 16 000 van dié sterftes jaarliks in Gauteng voorkom.
Die ekonomiese koste van swak luggehalte word op bykans R960-miljard per jaar beraam, sowat 14% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP).
Hoewel Pretoria nie self oor groot steenkoolkragstasies beskik nie, wys CREA dat die stad swaar geraak word deur besoedeling wat vanuit die Hoëveld Prioriteitsgebied en Mpumalanga se steenkoolkragstasies oor lang afstande versprei. Plaaslike verkeer, nywerheidsaktiwiteite en stofbesoedeling vererger die probleem verder.
Luggehaltemetings van IQ Air toon dat oostelike woonbuurte soos Pretoria-oos, Waterkloof, Lynnwood, Faerie Glen, Olympus en Silver Lakes oor die algemeen beter luggehalte ervaar. Dit terwyl daar in Pretoria-Wes, Rosslyn, Akasia en gebiede langs die N1-, N4- en R21-hoofroetes gereeld hoër vlakke van besoedeling gemeet word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
