Local news

Wenners van AfriForum se Dink of Sink-debatskompetisie bekend

Helpmekaar Kollege se Thea Kotzé, Emile du Toit en Danielle Wilkinson is as wenners in die junior afdeling aangekondig.

Die nasionale eindstryd van die Dink of Sink onvoorbereide debatskompetisie het verlede week in Centurion plaasgevind.

Die vier beste junior en vier beste senior spanne uit die verre noord-, sentraal- en suidstreek van die land het onderskeidelik hier teen mekaar te staan gekom om die wenners in beide afdelings te bepaal.

Helpmekaar Kollege se Thea Kotzé, Emile du Toit en Danielle Wilkinson is as wenners in die junior afdeling aangekondig.

In die senior debatsgroep was die Afrikaanse Hoër Meisieskool se Miné Hermann, Megan Jones en Megan Kruger die wenners.

Die wenners se pryse word deur AfriForum en Akademia geborg en Akademia het ook die lokale by koshuis@Leriba, waar die finale uitdunne en eindstryde plaasgevind het, geborg.

AfriForum bied die afgelope sewe jaar hierdie uiters suksesvolle nasionale debatskompetisie aan.

Die kompetiesie moes in 2020 en 2021 weens die Covid-19-inperking virtueel plaasvind, maar vanjaar is dit uiteindelik weer in die oorspronklike formaat gehou.

Deelnemers van skole regoor die land het in rekordgetalle ingeskryf vir die streeksuitdunne en die woord beter as ooit gevoer, sê AfriForum.

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, sê dit gee hom hoop vir die toekoms om hierdie jongmense so flink op hul voete te sien dink en hulle weldeurdagte argumente te hoor.

Kriel het lof uitgespreek vir die onderwysers en hoofde van skole wat vir kinders die geleentheid bied om aan kompetisies van dié aard deel te neem en hulle voorspoed toegewens met hulle kernbelangrike taak om leiers van môre te mentor.

Junior wenspan
Foto: Verskaf

Die beoordelaars van die finale junior en senior debat was verteenwoordigers van drie van die gasheerskole van die kompetisie se streeksuitdunne, naamlik mnre. Martin Botha (hoof van die Hoërskool Montana), Gert Visser (onderwyser by die Hoërskool DF Malan) en Ernest Swanepoel (onderwyser by die Hoërskool Merensky). Kriel en Daniël Eloff (prokureur van Hurter Spies Ingelyf en mede-organiseerder van die Dink of Sink onvoorbereide debatskompetisie vir studente) het by hulle aangesluit.

“Skoledebat is so gesond en mededingend soos altyd en berei ’n generasie van jong leiers vir die toekoms voor,” het Eloff na afloop van die kompetisie gesê.

Insetsels oor die uitdunne en finaal sal op AfriForumTV beskikbaar wees en die streeks- en nasionale finale sal ook op die webtuiste www.dinkofsink.co.za te siene wees.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button