Local news

Hof beveel departement: Finaliseer Girls High-skoolhoof se grief

Die Arbeidshof het die Gautengse Onderwysdepartement beveel om binne ’n maand die skoolhoof Phillipa Erasmus van Pretoria Girls High se grief af te handel. Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie beskou die uitspraak as ’n oorwinning ná verskeie omstrede dissiplinêre prosesse teen Erasmus.

Die Gauteng Departement van Onderwys moet binne ’n maand die grief van die skoolhoof van Pretoria Girls High, Phillipa Erasmus, teen die departement afhandel.

Die uitspraak is deur die Arbeidshof in Johannesburg op 9 September gelewer in ’n saak wat die Suid-Afrikaanse Onderwysers Unie (SAOU) namens Erasmus teen die departement gemaak het.

Dems Nel, SAOU-hoof van Regsdienste, noem die uitspraak ’n ‘klinkende oorwinning’.

Die aangeleentheid spruit uit die voortgesette en omstrede dissiplinêre proses van die departement teen Erasmus.

Erasmus is in Julie vanjaar op klagtes skuldig bevind dat sy nie die skool se beheerliggaam voldoende bygestaan het tydens aanstelling van ’n finansiële bestuurder nie, sowel as die klag dat haar eggenoot die skool se tuine vrywilliglik onderhou het waartydens hy die onderhoudspersoneel bestuur en ’n skoolvoertuig bestuur het.

Sy is ook deur die departement geskors.

Die SAOU het teen die sanksie geappéleer en as gevolg daarvan is die skorsing tydelik opgeskort.

Nel het aan Rekord verduidelik ten spyte van verskeie ondersoeke wat deur die departement teen Erasmus ingestel is, waarvan die bevindings nie aan die betrokke partye bekend gemaak word nie, het die departement ook nagelaat om die voorgeskrewe grieweprosedure na te kom.

Tydens die hofaansoek op 9 September is die Arbeidshof versoek om uitspraak te gee oor Erasmus en die unie se klag teen die departement oor die onregverdige en onbillike wyse waarop sy behandel is tydens verskeie dissiplinêre ondersoeke en die prosesse daarrondom.

Hierdie ondersoeke het gevolg op ongegronde uitlatings oor optrede wat na bewering op ’n private WhatsApp-groepie geskied het. Slegs leerders was op die groepie in 2024.

Erasmus en die skool het verlede jaar in die nuus beland nadat bewerings van rassisme by die skool ondersoek is en opgevolg is deur ondersoeke van die departement waaroor daar net gedeeltelik deur die verslag in die openbaar gedoen is.

Sy is nooit aangekla dat sy die skool se gedragskode oortree het nie.

Die departement is ook beveel om die unie se regskoste, wat namens Erasmus opgetree het, op ‘n bestraffende skaal te betaal.

“Hierdie uitspraak stuur weer ’n kragtige boodskap aan alle werkgewers in die onderwyssektor: prosedures, regte en verpligtinge kan nie ligtelik opgeneem word nie. Die unie sal altyd standvastig optree in die beskerming van sy lede se belange,” benadruk Nel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button