Local news

HelpHetta bring steeds hoop vir tienermeisies

Die HelpHetta-projek vier vanjaar sy tiende bestaansjaar. Dié projek bied higiëneprodukte en holistiese ondersteuning aan duisende skoolmeisies landswyd. Dit beskerm hul waardigheid, bevorder akademiese sukses en rus hulle toe vir emosionele en sosiale groei.

In 2015 is die eerste pakkies met higiëneprodukte saamgestel. Tien jaar later staan die HelpHetta-projek van Solidariteit Helpende Hand steeds sterk en bring dit nie net praktiese verligting nie, maar ook nuwe hoop aan duisende skoolmeisies landswyd.

Die impak van HelpHetta is onmiskenbaar. Duisende meisies kan met hul koppe omhoog in die klas instap, sport speel, eksamens skryf en aan die lewe deelneem, sonder skaamte of beperking.

“Dit raak my hart aan dat meisies skooldae moet mis oor hul siklus, want dis nie so maklik om in te haal nie,” sê Danelle du Plessis, projekorganiseerder.

Volgens haar is die impak van iets so eenvoudig soos ’n sanitêre pakkie veel groter as wat meeste mense besef.

“Dit is werklik vervullend om meisies te help wat regtig belofte toon en hardwerkend is om akademiese sukses te behaal.”

Die HelpHetta-projek is begin om meisies te help wat maandeliks skooldae moes afstaan weens ’n gebrek aan toegang tot basiese higiëneprodukte.

In sommige gevalle het meisies tussen 30 en 50 skooldae per jaar gemis, ’n reuse-terugslag vir hul opvoeding en selfvertroue.

Vandag word die projek aktief bestuur in Helpende Hand se streke regoor die land, en plaaslike takke sorg dat diégene wat werklik hulp nodig het die pakkies ontvang.

Die jaarlikse verspreiding van agt pakkies per meisie beteken dat 3 600 meisies landswyd toegang het tot nie net sanitêre doekies nie, maar ook ander higiëniese noodsaaklikhede.

Hierdie pakkies word dikwels met groot liefde en toewyding saamgestel deur gemeenskappe, skole en kerke.

Soos vroeër vanjaar, toe die Vrouebediening van Kerksondermure (KSM) in Centurion 12 kartondose vol doekies aan die projek geskenk het. Meer as 460 meisies sal vir ’n jaar lank baat vind hierby.

“Ek is nou so vier jaar deel van die projek,” sê Du Plessis, “en ek het die nood net groter sien word deur die jare.”

Hierdie toename in behoefte word bevestig deur navorsing wat Helpende Hand gedoen het.

Tydens behoeftebepalingsnavorsing onder die 3 000 meisies wat in die verlede aan die projek deelgeneem het, het dit duidelik geword dat fisiese ondersteuning by wyse van die pakkies net die begin is.

Meisies het op verskeie ander vlakke ondersteuning nodig soos geestelik, emosioneel en sosiaal.

Die navorsing het getoon:

– 35% het ’n behoefte aan geestelike ontwikkeling
– 43% wil selfverdedigingsklasse bywoon
– 55% het ’n lae selfbeeld,
– 38% wil leer om verhoudings beter te hanteer
– 12% wil meer inligting oor die bekamping van verslawings hê.

Hierdie bevindings het daartoe gelei dat die leiers van die projek die doelwitte verbreed het.

Die temas wat in die navorsing na vore gekom het, word doelgerig aangespreek.

Die projek het dus ontwikkel van net produkverspreiding tot ’n program wat meisies toerus vir die lewe.

Volgens René Roux, Helpende Hand se woordvoerder, is die emosionele en geestelike dimensie van die projek net so belangrik soos die fisiese.

“’n WhatsApp-uitsendingsgroep verseker dat Helpende Hand se span maatskaplike werkers weekliks boodskappe deel wat die meisies toerus om uitdagings soos verwerping, groepsdruk, mishandeling en selfverdediging aan te spreek,” sê Roux.

Die publiek word ook aangemoedig om ’n bydrae te maak.

“Ons moedig die publiek aan om ons te help om die pakkies wat opgemaak word aan te vul met iets ekstra soos tandepasta en ’n sepie,” sê Du Plessis.

Vir meer inligting, skakel 072 341 9383.

LEES: Perdepatrollies help met Moot-misdaadbekamping

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button