Local news

Riglyne om oorstromings in stede te beheer word vrygestel

Stede staar aanhoudend uitdagings in die gesig met stormwaterstelsels wat misbruik en verwaarloos word, wat dikwels lei na blokkasies en oorstromings. Die Instituut vir Munisipale Ingenieurswese in Suider-Afrika stel ’n paar oplossings voor in sy onlangs-ontwikkelde riglyn-hulpmiddel.

Die Instituut vir Munisipale Ingenieurswese in Suider-Afrika (IMESA) het onlangs ’n belangrike hulpmiddel uitgelig om die toenemende probleem van misbruik van stormwaterstelsels aan te spreek.

The Best Practice Guideline for Design Flood Estimation in Municipal Areas (Die Beste Praktykriglyn vir Vloedskattingontwerp in Munisipale Gebiede) is aan munisipaliteite beskikbaar gestel om die probleem te help hanteer.

Die instituut het ‘’n kommerwekkende neiging’ waargeneem waar mense deksels van mangate verwyder en dan gemors soos bourommel, bande, klere, speelgoed en selfs groot rotse in die stormwaterslote gooi.

“As hierdie vreemde voorwerpe die pype blokkeer, het die reënwater nêrens om heen te gaan nie. As gevolg hiervan, kan strate in riviere verander. Huise is onder water. Die infrastruktuur stort ineen. En die skade kan miljarde kos om reg te maak,” verduidelik IMESA.

Een van die grootste probleme is dat hierdie blokkasies dikwels ongemerk bly totdat swaar reën die gevolge daarvan openbaar.

Die instituut wys daarop dat ‘meeste munisipaliteite nie die begroting of mannekrag het om proaktief die stelsels na te gaan en skoon te maak nie, alhoewel alle pogings aangewend word om opvanggate en roosters skoon te maak’.

Dit beteken dat ’n oorstroming dikwels die eerste teken is dat iets verkeerd geloop het, en dan is die skade alreeds aangerig.

“Dis nie net ’n tegniese of ingenieurswese-aangeleentheid nie. Dit betrek die gemeenskap. Wanneer inwoners die stormwatersloot as ’n stortingsterrein gebruik, ly die hele gemeenskap onder die gevolge,” meen kenners by die instituut.

Die reaktiewe aard van vloedbestuur maak dit beide duur en gevaarlik, omdat die skade reeds plaasgevind het teen die tyd wat hulp verkry word.

Wat die probleem erger maak, is Suid-Afrika se toenemende verstedeliking, met die toename in geplavleide oppervlakke soos paaie en dakke.

Anders as natuurlike grond, absorbeer hierdie oppervlakke nie reënwater nie, maar vermeerder die afloop daarvan, wat dan bykomende spanning op stormwaterstelsels plaas.

“Voeg hierby die groeiende impak van klimaatsverandering, met storms wat meer intens en onvoorspelbaar word, en mens kan maklik sien hoekom die plaaslike infrastruktuur sukkel om dit te hanteer,” sê die instituut.

Stormwaterstelsels word geblokkeer deur vreemde voorwerpe soos bourommel, bande, klere, speelgoed en selfs groot rotse.
Foto: Verskaf

Soos IMESA en die Waternavorsingskommissie gekonfronteer word deur dié toenemende druk, het hulle hul beste praktykriglyne daarvolgens ontwikkel.

Hierdie is ’n deurslaggewende stap om munisipaliteite van die hulpbronne wat hul benodig te verskaf sodat hul kan beraam hoeveel water tydens verskeie reënvalgebeure bestuur moet word en om stormwaterstelsels te ontwerp wat hierdie uitdagings kan hanteer.

Dit help ook met die versigtige beplanning van infrastruktuur in gebiede wat aan oorstromings blootgestel word om rampe te vermy, sowel as die bestuur van data en rekords om vir toekomstige risiko’s voor te berei.

Wat belangrik is, is dat die riglyne munisipaliteite aanmoedig tot beter interne samewerking, veral tussen die stadsbeplanning- en ingenieursdepartemente, en om seker maak dat stedelike groei nie tot langtermyn dreineringsprobleme lei nie.

Die riglyne oorbrug die gaping tussen akademiese kundigheid en praktiese toepassing, en bied ’n gestandaardiseerde benadering tot oorstromingsberaming en -risikobepaling, wat voorheen ontbreek het.

Terwyl die munisipaliteite verantwoordelik is vir die instandhouding van stormwaterinfrastruktuur, herinner die instituut ook inwoners dat hul ’n rol speel.

Die instituut raai mense aan om nie rommel in dreine te stort of mangatdeksels te verwyder nie en vra dat sulke insidente aan die plaaslike owerhede aangemeld word.

Blokkasies kan ook vermy word deur om blare en gemors uit geute en slote in die strate te hou.

– Vind die riglyne hier: https://www.wrc.org.za/wp-content/uploads/mdocs/TT%20921%20final%20web.pdf

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button