Local sportSport

Naka Bulle verloor teen Tuks, maar lyk na klub om dop te hou

Hoewel Naka Bulle die afgelope week teen Tukkies verloor het en steeds aan de onderpunt van die puntelys sukkel, gebeur daar positiewe dinge by dié klub wat klubrugby entoesiaste opgewonde maak oor hul toekoms.

Centurion, Polisie en Tukkies het aldrie hul posisie op die Carltonbeker puntelys verstewig in die afgelope week se ligawedstryde, maar so tussen dié drie se oorwinnings deur is daar tog positiewe tekens by ander klubs wat hoop gee vir die toekoms van klubrugby.

* Nadat Tukkies in die eerste rondte 98 punte teen Naka Bulle aangeteken het en in die proses 16 drieë gedruk het, het die manne van die Moot baie beter gevaar in hul tweederondte wedstryd die afgelope week teen die studente. Dit dui daarop dat hulle vanjaar sterker kan eindig, terwyl die tendens gewoonlik andersom is. Oopklubs sukkel gewoonlik teen die einde van die seisoen as beserings en ander faktore begin intree.

Tukkies kon die afgelope week (die wedstryd is reeds Dinsdag gespeel weens Tukkies se betrokkenheid by die USSA toernooi) net ses drieë teen Naka Bulle druk, terwyl Martin Knoetze se span self twee keer agter die doellyn gaan kuier het. Hoewel Tukkies met 42-14 gewen het, is dit duidelik dat Naka Bulle sterker word met die verloop van die seisoen. Dié klub het ’n paar opwindende nuwe spelers bekom, maar die aspek wat klubrugby entoesiaste die meeste opgewonde maak is die prestasie van hul juniors.

As een van die BBRU se nuwe klubrugby inisiatiewe speel die junior klubspanne (o.20’s en o.21’s) in die Carltonliga een keer per maand op Loftus Versfeld se B-, C- en D-velde. Verlede Donderdag het Naka Bulle se o.20’s hul eweknieë van Tukkies die tweede keer vanjaar geklop (26-7). Om alles te kroon het Naka Bulle se o.21’s ook met Tukkies afgereken (23-10). Dié prestasie sou enkele seisoene gelede ondenkbaar gewees het, maar met ’n vars briesie by die klub uit die Moot lyk dit of die sluimerende reus uiteindelik besig is om te ontwaak. Daar word lank reeds gewys op die reuse potensiaal van dié klub as hulle net daarin kan slaag om al die rugbytalent uit die Moot vir hulself te behou. Laat ’n mens maar hoop hulle kan die samewerking van die sakegemeenskap kry om selfs meer sukses te genereer en dat hul krag binnekort ook na die Carltonbeker span sal oorspoel.

* Polisie het die afgelope naweek weer gewys dat hulle waarskynlik op hierdie stadium steeds die gunstelinge moet wees om vanjaar die Carltonbeker trofee te wen. Hulle het Oostelikes maklik met 45-10 geklop en in die proses sewe drieë teen die manne uit die Ooste se een drie gaan druk.

Polisie se goedgedrilde pak voorspelers was net te sterk vir Oostelikes, terwyl hul agterlyn baljaar het met die oorvloed van balbesit wat hulle gekry het.

Oostelikes kort waarskynlik ’n handvol eersteklas spelers om weer met die top drie te kan saampraat.

* Centurion se monster pak voorspelers het hulle weer gehelp om Saterdag met Harlequins af te reken. Die eindtelling van 42-9 was ’n groot terugslag vir Harlequins, wat waarskynlik gehoop het om ten minste ’n bonuspunt uit die wedstryd te verdien. Hulle kon egter nie een drie druk nie en al hul punte het gekom van die skopskoen van losskakel, Paul Walters.

Centurion se oorheersing voorlangs word bewys deur die feit dat vyf van hul ses drieë deur voorspelers gedruk is. Harlequins, wat self oor ’n skaflike pak voorspelers beskik is dus voorlangs oorrompel en sonder die bal in die hand kon hul gevaarlike agterlyn nie veel uitrig nie.  

* Eerskomende naweek se wedstryd tussen Oostelikes en Harlequins sal ’n groot rol speel om te bepaal water een van dié twee spanne die vierde kandidaat in die uitspeelrondtes van vanjaar se Carltonbeker toernooi sal wees. As Oostelikes wen, kan hulle die gaping tussen hulle en Harlequins tot tien punte op die puntelys laat rek, wat hulle byna ’n plek in die uitspeelrondtes sal waarborg. Wen die Blokkiestruie egter Saterdag, sal die stryd tussen dié twee feller word op pad na die uitspeelrondtes.

* In die Eersteliga was daar die afgelope naweek weer drie wedstryde. Hoewel die Dragons redelik stewig in die saal is in die eerste plek op die puntelys, lyk dit of daar ’n hewige stryd gaan woed tussen vier ander aanspraakmakers om die tweede, derde en vierde plek te bepaal.

Die stryd tussen die Dragons en die Silver Valke is voortydig gestaak toe beurtkrag ingetree het en die vloedlige afgegaan het.

Tuine het afgeskuif na die vierde plek p die puntelys toe Noordelikes hulle met 18-11 geklop het. Noordelikes het nou Tuine se derde plek op die puntelys ingeneem, maar daa ris nog baie rugby wat gespeel moet word voor die finale uitspeel-kandidate bepaal is.

Bronkhorstspruit het intussen ook nadergekruip aan die top vier met hul stewige oorwinning (30-17) oor Korrektiewe Dienste, wat ook steeds ’n aanspraakmaker op die uitspeelrondtes bly met hul huidige tweede plek. Bronkies se manne het op hulle beurt een wedstryd minder as Noordelikes en Tuine gespeel en hulle sal waarskynlik met ’n groot aanslag kom vir ’n plek onder die top vier.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button