Nollis Marais betrek Gary Botha by Blou Bulle
’n Goeie mengsel van ervaring en opkomende jong spelers is ingesluit by Nollis Marais se Curriebeker groep, wat hierdie week aangekondig is. Daarby heers daar opgewondenheid oor die Blou Bulle se voorspelerspel, nadat Marais die oud Bloubul en Springbok haker, Gary Botha, deel van sy bestuurspan gemaak het.
Die nuwe Blou Bulle-afrigter, Nollis Marais, het ‘n opwindende groep spelers aangewys om in vanjaar se Curriebekerkompetisie te speel en die gesogte beker in sy debuutjaar te probeer wen.
Die Blou Bulle Maatskappy (Edms) Bpk het terselfdertyd aangekondig dat ‘n groep jonger gekontrakteerde spelers hulle kontrakte met die BBM verleng het, ‘n bewys dat ‘n groot groep van die land se beste jong spelers steeds die Blou Bulle as hul tuiste sien.
Marais het spelers soos Jesse Kriel, Jan Serfontein, Handré Pollard, Rudy Paige, Victor Matfield, Marcel van der Merwe, Trevor Nyakane en Adriaan Strauss in sy groep ingesluit, hoewel almal tans Springbokverpligtinge het en dalk glad nie eens in die kompetisie sal speel nie.
Selfs sonder daardie name is daar steeds verskeie Springbokke wat nie tans deel is van afrigter Heyneke Meyer se Bokgroep nie, wat vir die Vodacom Blou Bulle sal uitdraf.
Marais sien uit na hul bydrae vanjaar, maar is ewe opgewonde oor die groep jonger spelers wat vanjaar kan deurbreek op hierdie vlak. “Dit is opwindende tye,” het Marais erken.
“Ons het van die beste jong spelers in die land wat titels op junior vlak gewen en vir die Junior Springbokke uitgeblink het. Voeg daarby diegene wat alreeds toetsrugby gespeel het en ander wat al die Curriebeker gewen het en dit is duidelik dat ons vanjaar baie mededingend kan wees. Die verantwoordelikheid om daardie talente tot volle potensiaal te laat speel, rus by ons as afrigtingspan,” het Marais gesê.
Daar is twee opwarmingswedstryde (EP Kings in PE op 17 Julie en Canon in Japan op 31 Julie.) waar Marais hoop om die groep saam te snoer.
“Ons is onervare as ‘n span wat saamgepeel het, so daardie twee wedstryde sal baie belangrik wees om mekaar te vind en kombinasies te vestig,” het Marais afgesluit.
- Die Hoë Prestasiebestuurder van die BBM, Xander Janse van Rensburg, het ook aangekondig dat verskeie jonger spelers kontrakte verleng het.
Die groot nuus is dat Jesse Kriel tot einde Oktober 2018 in Pretoria sal aanbly. “Dit is skitterende nuus vir ons dat Jesse deel is van die sterk groep spelers wat kontrakte verleng het. Ons is voortdurend besig om die beste talent in die land in Pretoria te ontwikkel en dit is goed om te weet dat die spelers steeds die Vodacom Blou Bulle as diebeste span sien om hul talente en ambisies uit te leef”, het Janse van Rensburg gesê.
Die spelers wat kontrakte verleng het is: Huidige Junior Springbokke RG Snyman, Hanro Liebenberg, Ivan van Zyl, Abongile Nonkontwana, Njabulo Gumede (almal tot Oktober 2017) en Jason Jenkins tot Oktober 2018.
Warrick Gelant en Tinus de Beer is onder kontrak tot Oktober 2016 en JT Jackson tot Oktober 2017.
- Die res van die Vodacom Blou Bulle se Absa Curriebeker-bestuurspan is bevestig, met die oud-Bok, Gary Botha wat as tegniese konsultant (voorspelers) ingebring word. Daar heers groot opgewondenheid oor Botha se betrokkenheid. Hy is in sy speeldae reeds as ’n kenner van skrumwerk beskou en hy was ook tegnies een van die beste hakers van sy era. Sy bydrae tot die Bulle se skrumwerk en die tegniese ontwikkeling van die hakers behoort van onskatbare waarde te wees.
Die res van Marais se bestuurspan is:
- John-William Meyer (Tegniese ontledings)
- Andre Volsteedt (Kondisionering)
- Stephen Plummer (Rehabilitasie)
- Karabo Morokane (Fisio)
- Pieter du Plessis (Fisio)
- Elzanne van Coller (Masseuse)
- Dr Org Strauss (Spandokter)
- Tim Dlulane (Spanbestuurder)
- Elias Bennet (Bagasiemeester)
Die 2015 Curriebeker groep is:
Heelagter: Jesse Kriel (Springbokke), Jurgen Visser, Jacques Rossouw, Warrick Gelant, Riaan Britz. Beseer: Duncan Matthews, Ryan Nell (beide September)
Vleuel: Travis Ismaiel, Kefentse Mahlo, Jamba Ulengo, Jade Stighling
Senter: Jan Serfontein (Springbokke), William Small-Smith, Dries Swanepoel, Daniel Kriel, Burger Odendaal
Losskakel: Handré Pollard (Springbokke), Tian Schoeman, Marais Schmidt, Louis Fouché
Skrumskakel: Rudy Paige (Springbokke), Francois Hougaard, Carlo Engelbrecht, André Warner, Ivan van Zyl. Beseer: Piet van Zyl (tot 2016)
Losvoorspeler: Pierre Spies*, Hanro Liebenberg, Clyde Davids, Arno Botha, Jannes Kirsten, Deon Stegmann, Lappies Labuschagne, Roelof Smit. Beseer: Ruan Steenkamp (Augustus).
Slot: Victor Matfield (Springbokke), Marvin Orie, RG Snyman, Nicolaas Janse van Rensburg, Jacques du Plessis, Flip van der Merwe, Jason Jenkins. Beseer: Irné Herbst (2016), Dennis Visser (Sept 2015).
Stut: Marcel van der Merwe (Springbokke), Werner Kruger, Andrew Beerwinkel, Nqoba Mxoli, Dayan van der Westhuizen, Trevor Nyakane (Springbokke), Dean Greyling, Morné Mellett, Justin Forwood, Neethling Fouché. Beseer: Pierre Schoeman (Augustus)
Haker: Adriaan Strauss (Springbokke), Bandise Maku, Jaco Visagie, Corniel Els. Beseer: Callie Visagie (middel Augustus).
* Pierre Spies is gekontrakteer tot Oktober 2015. Hy het aangedui dat hy in Japan wil gaan speel, maar nog nie bevestig dat hy dié opsie gaan uitoefen nie.
Janse Van Rensburg het ook bevestig dat Bjorn Basson tydens die Curriebeker seisoen in Japan gaan speel, maar dat hy terug sal wees in Februarie 2016 vir die SuperRugby seisoen.
Die agterlyn afrigter, Pieter Rossouw, het finale skeidingspakket aanvaar en sluit by Namibië se Wêreldbekergroep aan met onmiddelike effek.
