Local sportSport

Centurion word tweede Enristabeker kampioene

Die tweede Enristabeker toernooi is verlede week met groot sukses by Loftus Versfeld afgehandel en Centurion is vanjaar as die wenspan gekroon.

Die tweede Enristabeker rugbytoernooi vir o.19 spelers is verlede week met groot sukses op Loftus Versfeld se B- en C-velde afgehandel.

Dié toernooi, waarvan die konsep verlede jaar vir die eerste keer toegepas is, is deur die bekende sportpromotor en deesdae ook vise-voorsitter van die Blou Bulle rugby-unie, Willem Strauss, ontwikkel.

Die doel van die toernooi is eerstens om aan skoolseuns in matriek, wat nie die geleentheid gekry het om vir enige van die Blou Bulle se amptelike skolespanne uit te draf nie, wel ’n kans te gee om hulself op verteenwoordigende vlak te toets. Tweedens stel dit die seuns bloot aan klubrugby, terwyl die klubs die geleentheid kry om die seuns te werf vir hul o.20 spanne van volgende jaar.

Vanjaar het die toernooi weer sy waarde gewys toe ten minste twee seuns geoormerk is om uitgenooi te word na ’n oefengroep saam met die Blou Bulle se professionele o.19 span, wat eersdaags aan die nasionale o.19 liga vir Curriebekerspanne deelneem. Ander talentjagters van provinsiale spanne is ook by die toernooi opgemerk.

Volgens Strauss kan die oplewing wat daar vanjaar ervaar word in die klubs se juinior ligas (o.20 en o.21) direk toegeskryf word aan dié toernooi en die Blou Bulle se bestuur is opgewonde oor die invloed wat hierdie toernooi op die langtermyn op klubrugby kan hê.

Volgens die konsep van die toernooi word agt spanne deur die amptelike provinsiale keurders van die Blou Bulle se hoërskolevereniging gekies. Dié spanne is verteenwoordigend van letterlik alle hoërskole onder dié vereniging se jurisdiksie en hulle word dan aan die agt top klubs in Pretoria toegedeel. Die hoërskolevereniging help ook met die afrigting, terwyl die klubs die spanne bestuur.

Elke span speel drie wedstryde tydens die toernooi. Op Maandag vind die eerste rondte plaas. Die wenners spook dan op Woensdag sake uit vir ’n plek in die eindstryd, terwyl die plaatkompetisie se finaliste ook bepaal word. Saterdag vind die uitspeelwedstryde vir die laaste vier plekke, die plaat-eindstryd en die beker-eindstryd dan plaas.

Die standaard van rugby by vanjaar se toernooi was besonde hoog en as die tellings in ag geneem word was daar slegs een van die agt spanne wat gesukkel het om die mas op te kom. Dié span, wat in die kleure van TUT gespeel het, is egter hoofsaaklik saamgestel uit skole waar rugby tans onder druk is. Die bestuur van die span was egter positief, aangesien die helfte van die spelers in hul span vir die eerste keer in hul lewens hul voete op Loftus Versfeld gesit het en dié ervaring is iets wat hulle lewens dramaties verryk het.

Daar was vanjaar bittermin te kies tussen die top ses spanne. Uiteindelik het Centurion as kampioen van die reeks uit die stryd getree toe hulle vir Oostelikes met 17-10 in ’n klipharde eindstryd geklop het.

Tukkies is as die wenners van die plaatkompetisie aangewys toe hulle Polisie in ’n spannende stryd met 19-16 geklop het. Harlequins, wat self oor ’n bulspan beskik het, moes uiteindelik met die vyfde plek tevrede wees, toe hulle die ewe gevaarlike span van die Dragons met 33-10 verslaan het. Naka Bulle het sewende geëindig met hul oorwinnng van 50-5 oor TUT op die laaste dag.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button