Local sportSport

Naka Bulle skok Polisie in Carltonbeker

Die tendens in vanjaar se Carltonbeker rugbytoernooi, waarin daar vir die eerste keer in jare weer opwinding en afwagting ten opsigte van die puntelys is, het die afgelope naweek voortgeduur toe die span wat heel onder aan die puntelys was, Naka Bulle, die skok van di etoernooi gelewer het deur Polisie se onoorwonne rekord te breek.

Opwindende dinge is besig om in Bloubul klubrugby te gebeur en die Carltonbeker toernooi raak elke week interessanter.

Anders as ander seisoene, toe die klubs onder aan die puntelys aan die einde van die seisoen begin raap en skraap het om net hul verpligtinge te kon nakom, lyk dit of alle spanne vanjaar tot die einde sal moet veg om wedstryde te wen. Dít word bewys deur die seisoen se grootste skok tot dusver, toe Naka Bulle die afgelope naweek met Polisie afgereken het.

Die feit dat Polisie net een ligapunt uit hierdie wedstryd gekry het, het ook aan Tukkies die kans gegee om hul voorsprong op die puntelys te behou, sonder dat hulle die naweek gespeel het.

In die enigste ander wedstryd in die liga was daar self ’n verrassing, toe Harlequins vir Oostelikes oortuigend geklop het om die verskil tussen dié twee spanne na net twee ligapunte te laat krimp.

* Soos genoem het Naka Bulle die skok van die seisoen opgelewer toe hulle Polisie die afgelope naweek op laasgenoemde se tuisveld met 24-17 geklop het. Daarmee het hulle Polisie se onoorwonne rekord in die Carltonbekerreeks verbreek.

Soos Rekord verlede week berig het, het baie positiewe dinge hierdie seisoen by Naka Bulle gebeur. Een daarvan was die feit dat twee van Tukkies se mees ervare administrateurs, Marinus van der Watt en Neels Grobler, by die klub in die Moot aangesluit het. Van der Watt was lank betrokke by Tukkies se Carltonbeker- en Varsitybekerspanne, terwyl hy ook ander spanne by dié klub afgerig het. Hy is deesdae Naka Bulle se Direkteur van Rugby.

Grobler is weer ’n ervare bemarker en weens sy jarelange betrokkenheid by Tukkies en die Blou Bulle se akademie het hy die vermoeë om baie top spelers na Naka Bulle te lok.

Anton Beswick, ’n man wat al vir SWD en die Limpopo Bulle in die Vodacombeker toernooi uitgedraf het, was Naka Bulle se ster op binnesenter, terwyl die jong losskakel, Jean Grobler, ook in sy eerste wedstryd vir Naka Bulle uitgeblink het nadat hy Centurion vir die Moot-span verruil het.

Ongelukkig vir Naka Bulle het hulle waarskynlik bietjie laat wakker geskrik in vanjaar se reeks en hulle sal baie geluk aan hul kant moet hê as hulle nog vir die halfeindrondte wil kwalifiseer. Dis egter nie onmoontlik nie. As hulle in hul volgende twee wedstryde teen Oostelikes (18 Julie) en Harlequins (25 Julie) volpunte in die liga kan verdien, het hulle ’n skraal kans om dit wel te doen. Oostelikes se twee ander oorblywende wedstryde is teen Centurion (11 Julie) en Tukkies (1 Augustus), terwyl Harlequins nog teen Polisie (11 Julie), Tukkies (18 Julie) en TUT (6 Augustus) moet speel.

* Harlequins se kanse om self te kwalifiseer vir die halfeindrondte het Saterdag ’n hupstoot gekry met hul volpunte-oorwinning van 26-18 teen Oostelikes.

Harlequins se oorwinning is aangevoor deur goeie spel van hul pak voorspelers, wat die vaste skrums én die afbreekpunte oorheers het. Hul lostrio, James Masonv, Jaco Marais en Dolph Nel was puik as kombinasie en veral Nel, wat ook die kaptein is, het ’n reuse wedstryd gespeel.

Oostelikes was waarskynlik hul eie grootste vyand. Behalwe vir die feit dat hulle pak gekry het in die vaste skrums, het hulle steeds verskeie geleenthede geskep om punte aan te teken, maar slordige afronding het hulle telkens gepootjie.

* Eerskomende Saterdag speel Polisie teen Harlequins terwyl Centurion en Oostelikes mekaar sal pak.

* Regstelling: Verlede week het Rekord verkeerdelik berig dat Naka Bulle se junior spanne (o.21 en o.20) albei teen Tukkies gewen het. Naka Bulle se o.20’s het inderdaad vir die tweede keer vanjaar met hul eweknieë van Tukkies afgereken. Naka Bulle se o.21’s het egter verlede week vir Impala met 23-10 geklop en nié vir Tukkies nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button