Local sportSport

Tien top swaargewigte op een aand in super bokstoernooi in Pretoria

Na die sukses van Real Steel promosies se bokstoernooi by Presleys in Pretoria, kom dié promotors op 29 Julie vorendag met ’n super toernooi waarin toeskouers veral oorgenoeg swaargewig-aksie sal kan sien.

Real Steel Promosies se nuutste bokstoernooi op 29 Julie in Pretoria is iets wat geen boksliefhebber kan misloop nie.

Dié toernooi, net bekend as Fight Night at Presleys, kon net sowel die ‘Aand van die Swaargewigte’ geheet het. Tien van Suid-Afrika se beste en mees opwindende swaargewig boksers sal by dié toernooi in aksie wees. Daarby sal die twee sterre van Real Steel Promosies se vorige toernooi, Hansie Carr (junior middelgewig) en Sbusiso Zingange (junior liggewig) ook weer deur die toue klim.

Met 10 gevegte wat saam met al die swaargewigaksie ook opwindende boks in vyf ander gewigsafdelings sal insluit, sal geen toeskouer kan kla oor waarde vir geld nie.

Rekord het verlede jaar berig oor Johan Westervelt van Centurion wat as skopbokser die wêreldkampioenskap in Tjegoslowakye gewen het. Westervelt het intussen as professionele bokser gekwalifiseer en hy sal in die eerste swaargewiggeveg van dié toernooi in aksie wees teen nog ‘n nuweling, Matthew Benjamin.

Die opwindende nuwe swaargewigbokser van die Wes-Kaap, Herman Potgieter, sal in die tweede swaargewiggeveg teen nog ‘n opkomende bokser, Bevan Backman, deur die toue klim.

Flo Simba is ‘n swaargewigbokser wat geen bekendstelling nodig het nie. Dié voormalige IBO-jeugkampioen uit Harold Volbrecht se gimnasium sal in die toernooi teen Justice Siliga boks, ‘n man wat al teen top sterre soos Deon Coetzee en Kevin Lerena geveg het.

Nadat die nuutste Suid-Afrikaanse swaargewigsensasie, Ruann Visser, se onlangse geveg in Kempton Park afgestel is, is die meeste Suid-Afrikaners steeds nuuskierig en opgewonde om hom in aksie te sien. Dié gewese provinsiale rugbyspeler (2,07m en 128kg) is steeds onoorwonne na ses beroepsgevegte, waarvan vyf in Amerika plaasgevind het en een in Durban. Nou kan Pretorianers ook sien waarom dié jong reus bokskenners so opgewonde maak. Hy sal veg teen George Tshimanga, ‘n man wat self nog onoorwonne is in die professionele kryt.

In die hoofgeveg van die aand sal Pretoria se eie wêreldkampioen, Danie Venter, vir die eerste keer sedert Oktober verlede jaar weer voor sy eie mense in aksie wees. Venter, wat intussen in Oos-Europa geboks het, sal as swaargewig teen die gewese swaargewigkampioen van die Oos-Kaap, Unathi Jacobs, in aksie wees.

Lees ook:

Naka Bulle skok Polisie in Carltonbeker

Centurion word tweede Enristabeker kampioene

Nollis Marais betrek Gary Botha by Blou Bulle

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button