Oud en jonk stoei in Kosie Reitz toernooi in Pretoria
Die Kosie Reitz stoeitoernooi, wat Saterdag in Menlopark aangebied is, het stoeiers van verskillende ouderdomme regoor Gauteng gelok.
Die jaarlikse Kosie Reitz Presidente Stoeitoernooi is die afgelope Saterdag in die Noord-Gauteng Stoeisaal in Menlopark aangebied.
Die bekende Reitz stoeiklub, wat vanjaar hul 80ste verjaardag vier, het die toernooi met groot sukses aangebied.
Stoeiers van so oud soos 7-jaar tot by o.20’s was in aksie by die toernooi. Die een aspek wat die toernooi egter anders as die gewone toernooie gemaak het is die feit dat die dag se verrigtinge afgeskop is met vyf vertoongevegte deur meesterstoeiers van Pretoria.
Stoei onder meesters is volgens alle aanduidings weer besig om in gewildheid te groei in Suid-Afrika en daar is tans ’n groot groep meesters wat in Pretoria bedrywig is.
Meesterstoei is vir stoeiers oor die ouderdom van 35 jaar. Die groep Suid-Afrikaners wat verlede jaar na die wêreldkampioenskappe getoer het, het stoeiers tot so oud as 60 jaar ingesluit.
Daar het groot belangstelling geheers onder die toeskouers by Saterdag se Kosie Reitz toernooi toe die meesters naderstaan vir hul vertoongevegte. Die geveg wat egter die meeste belangstelling gaande gemaak het was dié tussen Willem Putter en Mike Rademeyer. Putter is ’n stoeilegende in Suid-Afrika en almal wou hom in aksie sien. Hy het ook nie teleurgestel nie en hoewel Rademeyer ’n waardige teenstander was, het Putter sommer gou met hom afgereken. Putter is immers die afgelope tien jaar reeds wêreldkampioen in sy gewigsafdeling as meesterstoeier.
Na afloop van die vertoongevegte deur die meesters het die toernooi begin en stoeiers van so ver as die Oos-Rand het deelgeneem. Puik aksie is gesien en dit was weer duidelik waarom stoei deesdae weer in gewildheid toeneem, veral onder skoolseuns.










