Local sportSport

Die inspirerende verhaal van Jacques van Rooyen

Een van die Leeus se rugbysterre, wat binnekort na Engeland vertrek om sy loopbaan daar voort te sit, het voor sy vertrek sy besonderse verhaal aan Rekord vertel.

Ná 22 jaar sedert rugby amptelik professioneel geword het, het die wêreld van professionele rugbyspelers baie eksklusief en amper vervelig-voorspelbaar geword.

Vyf jaar gelede het ‘n bonkige rooikop voorryman van Pretoria egter op die toneel verskyn wat vandag bekendstaan as ‘n baanbreker – die man wat die eksklusiewe koninkryk van professionele rugby se hok kom skud het en persepsies tot op die grond afgebreek het.

Vandag, aan die einde van ses asemrowende seisoene in die trui van die Leeus van Johannesburg, is dié vriendelike oud-leerling van Hoërskool Pretoria-Noord ‘n ikoon vir elke rugbyspeler wat droom om die “ander” pad te stap na sukses op die rugbyveld.

Die 31-jarige Jacques van Rooyen vlieg voor die einde van Augustus Engeland toe, waar hy in die volgende Europese seisoen in die suide van Engeland vir die Premierliga klub Bath gaan uitdraf en sy salaris in ponde gaan verdien.

So, wat daarvan? Hy is maar net nog een van Suid-Afrika se vele top rugbyspelers wat noord trek om vir ponde te gaan speel. Só sal baie mense redeneer wat nie Van Rooyen se storie ken nie – en wat ‘n storie is dit nie. Rekord het hom kort voor sy vertrek na Engeland by die Noordelikes-Dragons Rugbyklub in Pretoria-Noord ontmoet, waar hy sy besondere verhaal herleef het.

Ses jaar gelede, op die ouderdom van 27, was Van Rooyen ‘n gewone werkende man met ‘n bestuurspos in die logistieke afdeling van ‘n groot motorhandelaar-groep. Naweke het hy vir die destydse Polisie rugbyklub as loskop stut uitgedraf, waar hy week na week een van dié span se uitblinkers was. Maar toe kry hy sy een groot kans, wat hy met oorgawe en met albei hande aangegryp het. Soos die spreukwoord lui, die res is geskiedenis.

Van Rooyen is ’n gebore Pretorianer wat sy eerste jare in Pretoria-Noord deurgebring het. Nadat die Van Rooyen-gesin ‘n draai in Durban gemaak het waar die jong Jacques sy laerskool loopbaan voltooi het, is hulle terug na Pretoria tydens sy graad nege jaar. Hy het sy hoërskool loopbaan by Hoërskool Pretoria-Noord voortgesit, waar hy twee jaar vir die eerste rugbyspan uitgedraf het.

Hoewel hy sedert sy onder-16 dae gereeld na die Blou Bulle se Grand Khomo- en Cravenweek proewe uitgenooi is, het die keurders hom egter telkens oor die hoof gesien

In sy eerste jaar na skool het Van Rooyen se pad gekruis met dié van Nollis Marais, die latere Bulls-afrigter. Marais het vir hom ‘n werk aangebied by ‘n fabriek in Rosslyn in die noorde van Pretoria, maar hy is terselfdertyd gewerf om vir TUT se o.19-span uit te draf. Marais het dié span afgerig.

Die volgende jaar het hy vir die Noordelikes Rugbyklub in die Blou Bulle se Reserweliga begin speel, terwyl hy ‘n nagskof werker in Rosslyn was. Saam met Noordelikes het hy sy eerste trofee gewen.

Daarna het Van Rooyen vir ‘n jaar lank geen rugby gespeel nie, toe hy en ‘n paar vriende besluit het om ter wille van die lewensondervinding op die Seychelle-eiland in die sekuriteitsbedryf te gaan werk.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 2008 het Van Rooyen weer in die logistieke bedryf in Rosslyn begin werk, terwyl hy as nie-student deur TUT gewerf is om deel van hul eerste Varsitybeker-veldtog te wees. Ironies genoeg het hy wel begin studeer, maar as buitemuurse student by die Universiteit van Johannesburg.

Na vier seisoene by TUT maak hy die skuif na die destydse Pretoria Polisie. Saam met dié span wen hy die Assupol-reeks én die Carltonbeker in 2012.

Regdeur hierdie amateur-fase van sy rugbyloopbaan was daar kenners soos die gewese Bloubul-agtsteman Pote Fourie (later betrokke by Noordelikes) en die bekende afrigter van Polisie, Johan Kluyts, wat probeer het om manne by die Blou Bulle se professionele strukture te oortuig om Van Rooyen ‘n kans te gee, omdat hulle sy potensiaal raakgesien het. Hul pleidooie het egter op dowe ore geval.

Tydens sy speeldae by Polisie het ‘n gesprek met een van dié span se afrigters, Naas Rossouw, sy perspektief verander en nuwe lewe in sy rugbyloopbaan geblaas. Rossouw, wat as speler in meer as 150 wedstryde vir die Valke uitgedraf het, was een van die kenners wat Van Rooyen se potensiaal raakgesien het.

“Ek was by ‘n kruispad in my loopbaan. Ek het kort tevore my graad in Logistieke Bestuur voltooi en wou rugby los om op my korporatiewe loopbaan te fokus. Naas het aan my gesê dat ek nooit moet ophou glo in myself nie. Hy het my aangespoor om harder as die res te werk en fikser en sterker te probeer word, aangesien hy geglo het dat ek een of ander tyd ‘n kans sal kry om myself teen die bestes te toets,” het Van Rooyen vertel.

Teen 2012 was die Lions se latere hoof-afrigter, Johan Ackerman, reeds by die span van Johannesburg betrokke. Hy het gehoor van Van Rooyen en het ‘n Carltonbeke-r wedstryd tussen Tukkies en Polisie bygewoon om hom dop te hou. Ná sy puik skrumvertoning in dié wedstryd het Ackerman hom genooi vir ‘n toetsperiode saam met die Leeus.

Die man wat in Pretoria so stief behandel is, het sy toets by die Leeus met vlieënde vaandels geslaag. Daarna het hy ‘n geloofsbesluit geneem deur ‘n kontrak van die Leeus te aanvaar wat hom aanvanklik minder in die sak sou bring as wat sy korporatiewe salaris op daardie stadium was. Hy het besluit om die kans te vat en sy rugby-droom na te jaag.

In 2013 word hy deel van die Lions se span wat moes veg om hul SupeRugby status terug te kry en in daardie seisoen vestig hy homself as deel van Ackerman se groep wat later die Suid-Afrikaanse konferensie in dié toernooi sou oorheers.

Intussen het Van Rooyen in meer as 130 wedstryde vir die Johannesburgers uitgedraf, waaronder 66 keer in die SupeRugby-toernooi. Hy het in al drie dié span se SupeRugby-eindstryde gespeel oor die afgelope drie seisoene, terwyl hy ook in 2013 die Vodacombeker en in 2015 die Curriebeker saam met die Goue Leeus gewen het. Verlede jaar het hy dié span in die Curriebeker aangevoer.

Hy beskou die drie SupeRugby-eindstryde, sowel as sy wedstryd vir die Britse Barbarians teen Nieu-Seeland – op Twickenham, die heiligdom van rugby – as die hoogtepunte van sy professionele loopbaan tot dusver.

Van Rooyen glo dat hy, veral weens die feit dat hy op 27 eers op professionele vlak begin speel het, nog ‘n hele paar seisoene in sy lyf oor het. Hy het ook nog nie sy droom van ‘n Springbok-baadjie laat vaar nie.

“Ek dink my eie verhaal is ‘n bewys dat niks onmoontlik is nie. Ek is realisties oor die saak en weet dis onwaarskynlik, maar solank ek op top vlak speel, sal die droom altyd lewend bly,” het hy aan Rekord gesê.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button