Local sportSport

Hokkie legende ná ’n leeftyd van diens aan die sport

Een van die ware legendes van hokkie in Pretoria vier vanjaar sy 50ste jaar as afrigter en administrateur in dié sport en hoewel hy amptelik afgetree het, sal sy kennis en ervaring nog goud werd wees vir die volgende geslag hokkiespelers.

As ’n mens begin gesels oor legendariese persoonlikhede in hokkie-geledere in Pretoria, sal die naam van Niel Maré baie gou in dié gesprek opduik.

Dié gewilde en geliefde afrigter en administrateur se reis met die hokkie het in 1975 as jong onderwyser begin.

“Ek het van jongs af ’n liefde vir verskeie sportsoorte gehad, maar hokkie het my hart gesteel,” is die bondige wyse waarop Maré sy verbintenis met hokkie opsom.

Maré was vanaf 1978 tot 1985 die afrigter van Wes-Transvaal se skolehokkie spanne (beide dogters en seuns) en in hierdie hoedanigheid het hy die twee spanne jaarliks na die nasionale kampioenskap vergesel.

Hy was ook buite skoolgeledere by die sport betrokke as afrigter van die voormalige Normaalkollege van Pretoria (NKP) se manshokkie span. Later is hy selfs gekies om op verteenwoordigende vlak die nasionale Onderwyskollege-span te lei.

Die 71-jarige Maré se grootste lewenstaak as hokkie-afrigter en -administrateur het egter in 1995 begin, toe hy saam met ’n familielid Afrikaner Volkseie Sport (AVS) se nasionale Bokkieweek in Klerksdorp bygewoon het.

Niel Maré (heel links agter) saam met die heel eerste AVS dogters hokkiespan wat oorsee getoer het. Dié span het Nederland in 2007 besoek.
Foto: Verskaf

Ná ‘n gesprek met die baanbrekers van AVS, Daan Nolte en Theo Diedericks, is Maré in 1996 as mede-afrigter van die o.19-rugbyspan van AVS Noord-Transvaal betrek.

In 1998 is die eerste hokkiespanne vir AVS se jaarlikse Bokkieweek ingeskryf. Maré beskryf dit as ’n nederige begin op grondbane by Kleinfontein naby Pretoria. Die aanvanklike doel was om Afrikanerkinders meer betrokke by hokkie te kry en hierdie visie het vinnig ’n realiteit geword.

“Ek wou kinders blootstel aan hierdie wonderlike sport en die dissipline en spanwerk wat dit kweek,” verduidelik Maré.

Die mate waarin hierdie ideaal van hom verwesenlik is, word bewys deur die statistiek van AVS. In 2024 het 14 van die 15 provinsiale unies aan hokkie deelgeneem.

Onder die vele hoogtepunte van Maré se loopbaan is die onlangse 4-1 oorwinning van die Bokkies se dogters hokkiespan oor die Suid-Afrikaanse Makabiespan. Die Makabie-beweging is ’n wêreldwye Joodse organisasie vir die bevordering van sport en kultuur, rofweg soortgelyk aan die AVS.

“Dit was ‘n ongelooflike wedstryd en ek sal nooit die span se deursettingsvermoë vergeet nie,” het Maré trots vertel.

Tog is dit nie net die oorwinnings wat vir hom tel nie. Die feit dat sy gesin – sy oorlede vrou en twee dogters – so nou saam met hom betrokke was by die Bokkieweek, maak die ervaring ekstra spesiaal. Tussen die vier lede van die Maré-gesin het hulle gesamentlik 82 jaar se diens aan AVS en die  Bokkieweek.

“Sonder my gesin se opofferings sou ek nie in staat gewees het om hierdie pad te stap nie. My vrou het my altyd ondersteun, terwyl my dogters my passie vir hokkie deel. Ek weet ook dat die Here my gelei het elke tree van die pad,” het Maré getuig.

Niel Maré en sy gesin, wat hy as steunpilare in sy loopbaan as sportadministrateur beskou. Sy oorlede vrou (regs voor) en dogters was almal by die Bokkieweek betrokke.
Foto: Verskaf

Dit is nie net die spel wat hom aangeraak het nie, maar ook die invloed wat Bokkieweek op jong spelers se lewens het. Dié toernooi dien as ’n platform vir jong spelers om hul vaardighede te slyp en selfvertroue te bou.

Hy glo ook dat die Bokkieweek ’n ongelooflike rol speel in talentontwikkeling en dat die strawwe kompetisie spelers blootstel aan ’n hoër vlak van die spel. Dit lei weer tot verbeterde prestasies en verdere geleenthede op provinsiale en nasionale vlak.

Hoewel Maré in 2025 na 29 jaar van diens aan die AVS amptelik aftree, beplan hy om steeds by hokkie betrokke te bly.

“Ek het baie projekte in gedagte – van afrigtingsprogramme tot die bevordering van hokkie in kleiner gemeenskappe. Ek is nie klaar met hierdie sport nie,” het hy onomwonde beklemtoon.

Buiten sy betrokkenheid by hokkie, het Maré ook ‘n liefde vir skryf ontdek om sy ervarings en insigte te deel. Hy het reeds een boek gepubliseer en ek werk aan nog ‘n paar. Sy skryfwerk is geïnspireer deur sy loopbaan, sy geloof en die lewenslesse wat hy oor dekades geleer het.

Dié hokkie legende het ’n ryke nalatenskap vir die sport, veral by AVS en die Bokkieweek. Sy bydrae getuig van opoffering, groei en onwrikbare geloof in God, asook liefde vir hokkie en sy gesin.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button