Twee jong Pretorianers maak geskiedenis in beroemde bergfiets wedren
Twee jong fietsryers van Pretoria het tydens vanjaar se moordende Cape Epic bergfiets-wedren die kollig op hulle laat val deur waarskynlik die jongse span te word om dié wêreldberoemde wedren suksesvol te voltooi.
Die uitdagende Cape Epic bergfiets wedren is internasionaal beroemd en vanjaar het deelnemers van meer as 60 lande getel onder die sowat 1200 ryers wat die wedren aangepak het.
Hierdie wedren staan in sommige fietsrykringe bekend as die “Tour de France van bergfietsry” en toets deelnemers se uithouvermoë oor ’n afstand van 603km oor agt dae. Deelnemers word in kategorieë ingedeel wat insluit mans, vroue, gemengde spanne, meesters, groot-meesters en amateurs.
Fietsryers se vermoë word tot die uiterste getoets oor ruwe terrein. Na die eerste fase op die Meerendal wynlandgoed in die Durbanville omgewing, volg ryers daarna ses ander daaglikse roetes in die omgewing, wat oor afstande van tussen 20km en 95km kronkel oor klipperige – soms enkelspoor – bergpaadjies, roetes tussen wingerde, styl opdraendes in bergagtige gebiede, terwyl tydtoetse ook deel uitmaak van die uitdaging.
Die wedren is op die agtste dag voltooi op die Lourensford wynlandgoed in Somerset Wes.

Foto: Verskaf
Vanjaar het twee jong Pretorianers, Jordan Boshoff (20) en Travis Rademan-Ludeke (18), opslae gemaak toe hulle ook aangetree het vir hierdie wedren. Uiteindleik het hulle die verbeelding van die fietsry-gemeenskap aangegryp deur waarskynlik die jongste span ooit te word om die wedren suksesvol te voltooi.
Die twee dapper ryers het deelgeneem onder naam van Project Dream SA – ’n ontwikkelingsinisiatief wat jong talent ondersteun. Hul leuse is “Om kampioene te help om wêreldkampioene te word”.
Boshoff is bekend vir sy tegniese vernuf en verbasende klimvermoë. Hy is reeds vanaf ’n jong ouderdom betrokke by Olimpiese formaat (XCO) en Marathon formaat (XCM) bergfiets wedrenne en die Cape Epic was ’n droom wat vir hom waar geword het.
Dié toegewyde ryer het Suid-Afrika reeds in 2023 verteenwoordig by die XCO wêreldbeker wedren in Legé aan die weskus van Frankryk.

Foto: Charmaine Visser
Hoewel Rademan-Ludeke net 18 jaar oud is, het hy ook al as ’n vegter op sy fiets – beide in pad- en bergfiets wedrene – bekendheid verwerf.
Sy toewyding en bereidheid om hard te werk, asook sy uitstekende herstelvermoë tydens meerdaagse wedrenne, maak hom ’n ryer om dop te hou in die toekoms. Hy het boonop reeds drie Suid-Afrikaanse padwedren titels agter sy naam en was verlede jaar die SA Junior padwedren kampioen. Hy het ook Suid Afrika met groot suskes by die Internasionale Fietsry Unie se wêreldkampioenskap in Switzerland verteenwoordig.
Graeme Cronje, die spanbestuurder en afrigter van ‘Project Dream SA’ glo dat hierdie twee jongmanne se prestasie by vanjaar se Cape Epic bewys dat hulle vorder in hul missie om kampioene te kweek.
Volgens hom het Boshoff en Rademan-Ludeke ’n nuwe standaard gestel oor wat moontlik is vir jong fietsryers in Suid-Afrika.
Belangstellendes kan hul vordering en programme op sosiale media volg onder die naam #ProjectDreamSA.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
