Local sportSport

Centurion beantwoord vrae, Grizzlies klop Tuks in Carltonbeker

Daar was baie vrae oor Centurion rugbyklub ná drastiese veranderings by dié klub, maar hul nuwe span en afrigter het die afgelope naweek die praatwerk op die veld gedoen teen Harlequins.

Centurion rugbyklub se eerstespan het Saterdag in hul eerste Carltonbeker wedstryd van die seisoen die groot vraag op almal in klubrugby geledere se lippe duidelik beantwoord, toe hulle Harlequins op laasgenoemde se tuisveld met 34-33 geklop het.

Dis algemene kennis dat Centurion hul jarelange afrigter, Riaan Brand, asook heelwat van hul ster-spelers verloor het sedert die einde van verlede seisoen.

Die manne uit die suide het egter onder die leiding van hul nuwe afrigter, die voormalige Bulls en Springbok flank, Jacques Potgieter, reeds in die eerste helfte gewys wat in hulle steek. Hulle was na ’n halfuur se spel met ’n telling van 7-21 agter op die telbord, maar toe die rustyd fluitjie blaas, het hulle met 28-21 voorgeloop ná ’n blitzkrieg van drie drieë in agt minute.

Quins het eerste punte aangeteken toe hul linkervleuel, Eugene Hare, ’n aangee van die besoekers onderskep het om onder die pale te druk, maar Centurion het teruggeslaan met ’n drie deur Mechack Nzike ná verskeie fases in die rooi gebied.

Daar word gesê ‘n foto spreek ‘n duisend woorde”… en in hierdie geval is dit in die kol vir Dave Bergman (links), president van die Centurion rugbyklub en die klub se nuwe eerstspan losskakel en kaptein, Cornel Korff.
Foto: Johanna de Vos

Nadat die twee spanne gaan rus het, het die intensiteit van die wedstyrd verhoog en die eerste punte in dié skof het eers in die 25ste minuut gekom via ’n stradoel van deur Cornel Korff, Centurion se nuwe losskakel en kaptein.

Die 26-jarige Korff, wat vir Tuks in die Varsitybeker toernooi uitgedraf het en ook as junior vir die Bulls (o.19) en Cheetahs (o.21) uitgeblink het, gaan vanjaar groot waarde toevoeg vir Centurion.

Quins se terugvegpoging was hopeloos te laat en hoewel hulle twee drieë in die laaste twee minute kon druk, het ’n verbroude doelskop aan Centurion die oorwinning besorg.

– In die Weste van die stad het die Grizzlies van Tuine op hul tuisveld ook vir ’n verrassing gesorg toe hulle Tukkies met 26-24 geklop het.

Dis bekend dat die Grizzlies lankal nie meer ’n span is wat maklik geklop word nie. Tuks-ondersteuners sou verskoon kon word as hulle vooraf geglo het dat hul span die gunsteling sou wees om te wen, ná ‘’n indrukwekkende Varsitybeker veldtog.

Toe Tuks se agtsteman, Dillon Smith, binne drie minute na die afskop onder die pale oorduik vir ’n verspotmaklike drie ná ’n vyftree skrum, het dit gelyk of die dag lank gaan raak vir die Grizzlies.

Die tuisspan is bekend vir hul vermoë om vinnig terug te slaan nadat hulle punte afgestaan het. Hoewel dit hierdie keer effens langer geneem het, het hulle wel teruggkom met ’n drie, óók na ’n skrum naby die doellyn.

Toe volg ’n puik individuele drie deur Grizzlies se losskakel, Rodwill Baatjies, en die Tuine-manne was voor met 12-7.

Hoewel Tuks kort voor rustyd die telling gelyk gemaak het met hul tweede drie, sou hulle beslis bewus geword het dat die tuisspan se verdediging strate beter is as in die verlede. Tuks het balbesit en gebiedsvoordeel oorheers vir die tweede kwart van die wedsryd, maar hulle is telkens in hul spore gestuit deur Grizzlies se verdediging.

’n Skitter-drie deur Grizzlies se binnesenter, Werner Schoeman, wat direk van die afskop af die student se verdediging opgekloof het met ’n kraglopie, het die momentum weer na die tuisspan se kant laat swaai.

Drie minute later Baatjies oorgeduik ná nog ’n goeie lopie van Schoeman, wat die druk op Tuks laat toeneem het.

Tuks se linkervleuel, Bayanda Ngobane, se langafstand drie het die spanning in die laaste kwart van die wedstryd opgejaag.

Die twee spanne het daarna die krane opgedraai en beide hul aanvallende aanslag behou.

Tuks het met sewe minute se speeltyd oor uiteindelik daarin geslaag om weer te druk, maar die doelskop was mis en die Grizzles kon tot die einde vasbyt vir die oorwinning.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button